Bekende Hartbeespoort koskenner, skrywer, voedselkonsultant, dosent, boer en TV-aanbieder, Annelien Pienaar se gewilde boek, Boerekos met ‘n Twist, is pas aangewys as een van die 20 topverkoper boeke in Suid-Afrika.
“Ek is baie verras… veral aangesien die boek al vier jaar op die rakkke is,” sê sy. “Ek het dit nie verwag nie en voel baie geëerd.”
Annelien is tans besig met die afronding van haar tweede boek, Vleis, wat hopelik binnekort op die rakke sal verskyn. “En natuurlik gaan dit oor vleis,” lag sy.
Dié besige vrou, wat aan die voet van die Magaliesberg in Skeerpoort ook ‘n gastehuis bedryf, sit nie stil nie. “Ek is besig met alles wat met kos te doen het.” Sy bedryf ‘n kosskool, ‘n webtuiste, Facebook-blad met oor die 40 000 lede, aanlyn koswinkel, en tussendeur skryf sy boeke… oor kos!
Die boeke was ‘n natuurlike voortvloei uit haar webwerf met resepte wat sy self getoets het. “Ek het die webwerf gestig omdat ek voel daar is deesdae baie resepte wat die rondte doen wat nie getoets is nie. My resepte is goed uitgewerk met ‘n les in elkeen. Die nodige uitwysings vir moontlike probleme vir die resep word genotuleer om jou as bakker die soete smaak van sukses te gee. Dus, weet dat die resepte deur myself getoets en geskryf is,” sê sy.
As voedsel- en voedingdosent, het Annelien Pienaar jarelange ondervinding en kennis wat sy met die kranige kok kan deel. Gevorderde tot eenvoudige resepte word in ‘n formaat geskryf wat geskoei is met “’n les” in elke resep. Die gebruiker kan verseker weet dat alle vangplekke en haakplekke vooraf uitgewys word, om sodoende baksukses te verseker.
Die webwef en gevolglike sosiale mediaplatforms het vinnig opslae gemaak. Haar aanvanklike kosvlog was eintlik net ‘n manier om inligting aan haar sowat 350 studente oor te dra, maar toe word die ‘studente’ meer as 2 miljoen besoeke op die vlog. Sy het besluit om na ‘n formele webtuiste oor te skakel waar die leser makliker en vinniger met resepte geholpe kon raak. Die webtuiste en Facebook-blad met al hul voete, het vinnig gesorg dat sy ‘n bekende openbare figuur geword het en televisieaanbiedings het gevolg. Sy tree ook gereeld by feeste en geleenthede op om haar spesialiskennis van kos te deel.
Tuis op die plaas bedryf sy ‘n suksesvolle kookskool waar sy opleiding in die geheime van die kookkuns gee. Haar klasse is klein en intiem. Sy reis ook landswyd as konsultant om kaasfabrieke en bakkerye op te rig en opleiding te gee.
En dan is daar nog haar gastehuis en pekanneutboerdery op die Skeerpoort-plasie. Van stilsit is daar vir dié talentvolle vrou geen sprake nie.
Besoek Annelien se webtuiste annelienpienaar.co.za of die Facebook-blad Boerekos met ‘n Twist.