Na ‘n onderbreking van twee jaar weens COVID-19, is die Hartbeespoort Kunstefees vanjaar terug en word van 27 Julie tot 13 Augustus by verkeie plekke in Hartbeespoort aangebied.

Dit sal die 34ste Hartbeespoort Kunstefees wees. Deelnemers het vryheid van keuses aangaande werke, stukke of aanbiedings en sodoende behou elke deelnemer of groep eie identiteit en persoonlikheid. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Junie 2022 en die koste per item per inskrywing beloop R50. Die volgende afdelings word aangebied: Kuns, drama, klavier, instrumentaal, kitaar en klawerborde, populêre musiek, dans, formele sang en kore.
Die volledige reëls, inskrywingsvorms vir alle afdelings, affiliasiefooie en datums van die verskillende afdelings, is in ‘n prospektus uitgeensit. Belangstellendes kan ‘n e-pos stuur aan eurika.leroux@apms.co.za om ‘n prospektus te bekom.
Die publiek is welkom om enige afdeling by te woon waarvan die toegang gratis is. Tydens die openingsaand op 27 Julie, sal die publiek ook die geleentheid kry om die uitstalling van die kunswerke te besigtig en te luister na ‘n bekende kunstenaar wat die begin van die fees met musiek gaan afskop.
Daar is vanjaar ook ‘n skryfkunsafdeling. “Ons spring in hierdie afdeling weg met die skryf van limirieke. Deelnemers kan oor enige onderwerp twee limirieke per inskrywing instuur. Kom geniet saam met die Hartbeespoort Kunstekomitee ‘n 34ste Kunstefees, wat talent uit die hoogste rakke gaan aanbied. Deelnemers het in die verlede so ver as Pretoria en Potchefstroom gekom,” sê Eurika le Roux, koordineerder van die kunstefees.