
Mount Haven Aftreeoord se orkes was ‘n gunsteling by die Hartbeespoort Kunstefees.
Die 35ste Hartbeespoort Kunstefees is pas afgesluit met galakonserte verlede naweek. Die fees is van 26 Julie tot 5 Augustus aangebied.
Deelnemers het hul onderskeie talente vertoon in klavier, instrumentaal, drama, dans, popmusieksang, kore en formele sang en kuns.
Die kunstema was ‘Water vir 100 jaar: verlede, hede en toekoms’ en val in by die 100-jaar viering van die Hartbeespoort Dam.
Ongeveer 1 300 deelnemers van Graad 000 tot volwassenes het hul talente kom wys. ‘n Groot gunsteling was die orkes van die Mount Haven Aftreeoord met Martha de Wet as dirigent. Hulle het ‘n staande ovasie ontvang.
Wilmi van Rooyen, ‘n leerder van Laerskool Generaal Hendrik Schoeman het die junior Hartbeespoort Kunstefees/Unisa-klavierbeurs vir 2024 ontvang. Die volgende dansers het direk gekwalifsieer vir die Talent Africa Nationals van 2023 sonder om deur eindrondes te gaan: Micayla Badenhorst, Janika van Staden, Milyn Zeelie, Kelsey Schutte, Jean-Mari Marshall, Sabeah Stander, Jaen Mong, Jaiden le Roux, Kira Steyn en Ariska Laatz. Hard oefen en werk lewer beslis vrugte af.
Die Kunstekomitee wil graag die volgende instansies bedank vir die beskikbaarstelling van hul sale waar die Kunstefees gehou kon word: Laerskool Generaal Hendrik Schoeman, Nederduits Hervormde Kerk, Hartbeeshof Aftreeoord, asook ZKTeco, wat die sertifikate geborg het.