Hartbeespoort het sy eie klein ‘Zola Budd’ wie se droom dit is om eendag kaalvoet aan die Olimpiese Spele deel te neem.
Die 12-jarige Dené van der Merwe, ‘n Graad 7-leerder by Laerskool Generaal Hendrik Schoeman, het verlede week die onder 13 100m-wedloop by die Suid-Afrikaanse skolekampioenskappe kaalvoet gewen. En sommer vêr! Sy is boonop as die beste baanatleet aangewys.
‘Spikes’ is nie vir haar nie, sê dié klein “Pocket Rocket”, soos haar afrigter haar noem. “Ek hét die afgelope paar maande probeer om met ‘spikes’ te hardloop, maar dit is ongemaklik. Ek is baie vinniger daarsonder,” sê Dené. “Ek het die wen glad nie verwag nie, dit was ‘n groot verrassing”
Kort voor die 100m-wedloop het sy die 200m met hardloopskoene gehardloop en derde geëindig.
“ Nadat ek derde gekom het, het my afrigter vir my gevra: ‘Waar is daai klein Pocket Rocket van my, daai een wat baklei tot die einde toe? Daarna het hy gesê trek uit daai spikes en gaan wys hulle wat jy regtig kan doen. Ek moes weer in myself glo en ek het net my alles gegee,” vertel sy.
Tydens die wedloop het kommentators na haar verwys as die kaalvoetkoninging en nog ‘n jong Zola Budd. Na haar wen, is sy gevra waar sy dan in die semi-finale was want sy is nie opgemerk nie. Haar antwoord was: “Ek het spikes aangehad.”
Dené het in Graad 2 aan atletiek begin deelneem “sommer net omdat dit lekker is”. “Ek het begin oefen en dit het net lekkerder geword. Nou is dit my lekkerste stokperdjie,” sê sy. Sy is ook ‘n talentvolle akrobatiese danser, en speel netbal en hokkie. Sy presteer ook op redenaarsgebied en is in die Top 10 akademiese studente in haar graad.
Volgens haar ma, Lizette was sy ‘n besige bytjie van kleinsaf. “Sy sit nie stil nie en sy het ‘n willetjie van haar eie. Sy het hierdie houding van ‘bring it on’.”
Dené se ouer suster, Xante, presteer ook in atletiek en albei word deur dieselfde afrigter afgerig. “Dit was juis op die baan terwyl haar suster oefen waar die afrigter Dené aangemoedig het om saam te begin oefen.
“Hulle afrigter motiveer die twee en het hulle deursettingsvermoe geleer, nie net in atletiek nie, maar ook in die lewe. Dit is ‘n waardevolle les,” sê Lizette.
Nou is die atletiekseisoen verby en Dené gaan nou meer tyd aan netbal spandeer. “Ek hou aan atletiek oefen, maar ek is bly ek kan meer tyd op die netbalbaan deurbring. Ek hou baie van netbal.”
En hoe sien sy haar toekomstige atlietloopbaan? “Ek wil eendag aan die Olimpese Spele deelneem,” sê sy beslis.
Dié dogtertjie is vasberade en toegewyd, soos mens duidelik op haar foonprofiel kan sien. Dit lees: “If you are not willing to work for it then don’t complain of not having it…”