
Oud-Springbokrugbyspeler, Grant Esterhuizen (47) van Hartbeespoort, is besig met prosesse om sy aanvallers te identifiseer na hy Saterdag erg in Mbombela aangerand is.
Grant is bewusteloos geslaan toe twee aanvallers hom buite ‘n nagklub in dié dorp met die vuis en ‘n motorfietsvalhelm bygedam het.
Grant en vriende het Saterdag die rugbytoets tussen die Springbokke en All Blacks in Mbombela gaan kyk en is na die tyd na die Mustang-kuierplek op die dorp. “Dit was ‘n fantastiese dag en ons het baie lekker gekuier. Omdat ek so baie rugbyspelers ken, het ek die aand in die klub van groep tot groep beweeg en saamgekuier. Toe ek ‘n boodskap kry dat my vriend wil huis toe gaan, is ek na buite om hom te soek. Ek kon hom egter nie kry nie, maar hulle wou my nie toelaat om weer die klub binne te gaan nie omdat hulle besig was om te sluit. Ek het buite met ‘n ander vriend gestaan en gesels toe twee mans na my toe kom. Een het gesê hy gaan my slaan. Ek het net my rug op hom gedraai en die volgende oomblik word ek van die kant af met die vuis in die gesig geslaan,” sê Grant.
Hy het geval en met die opstaanslag teruggeslaan. “Dit is die laaste wat ek onthou. Ek was uit. Volgens ooggetuies het die ander man my van agter met ‘n motorfietsvalhelm geslaan. Ek was ‘n hele paar minute bewusteloos. Toe ek wakker word, het ek nie geweet wat gebeur het nie.”
Grant en sy vriende is weg by die klub en het die volgende oggend na Hartbeespoort teruggekeer. ‘n Saak van aanranding is by die polisie in Mbombela aanhangig gemaak.
“Ek het nie lekker gevoel nie en met my terugkeer na Hartbeespoort is ek na Brits Mediclinic waar ek behandel is. Hulle het skanderings gedoen en X-straalplate geneem. Daar is gelukkig niks ernstig fout nie. Ek is ‘ok’, ek voel net nie lekker nie, maar ek sal regkom.”
Grant het reeds ‘n prokureur aangestel om te help soek na die skuldiges. “Ek gaan dit nie daar laat nie. Ons het baie ooggetuies en ek glo hulle sal gou geïdentifiseer word. Ons wag ook vir die CCTV-videomateriaal van die nagklub.”
“Dit is net sleg, want ek voel nie goed genoeg om die naweek die rugby by te woon nie.”
Grant was in 2000 in die Springbokspan wat die All Blacks op Ellispark tydens die Drienasies-toets gewen het.