Hartbeespoort-seun uitgenooi om in Japan te studeer

Die 15-jarige Christiaan Burger van Hartbeespoort gaan nou vir drie jaar in Japan studeer na hy verlede week die nuus gekry het dat hy deur United World College gekies is om die Internasionale Baccalaureate voor-universiteitsdiploma in dié land te voltooi.

United World Colleges JAPAN het Suid- Afrika se nominasie vir Christiaan aanvaar, en hy is ‘n vol studiebeurs toegeken om in Augustus 2021 met die diploma in Japan te begin. Dié graad nege-leerling van Hoërskool Hartbeespoort is baie opgewonde, maar ook seunuagtig oor dié groot avontuur en uitdaging wat voorlê.

Dit is die eerste keer dat ‘n Suid-Afrkaanse kandidaat ‘n studiebeurs van die gesogte Japan College ontvang het, en Christiaan is ook die jongste kandidaat wat nog aanvaar is.

United World Colleges (UWC) is ‘n wêreldwye netwerk van skole en opvoedkundige programme met die gedeelde missie om ‘onderwys ‘n krag te maak om mense, nasies en kulture te verenig vir vrede en ‘n volhoubare toekoms’

Voormalige Suid-Afrikaanse president, Nelson Mandela, het as ere-president van die UWC (1999–2013) gedien , en so ook Lord Mountbatten en Prins Charles wat as president van die organisasie gedien het. Die huidige president van UWC is Koningin Noor van Jordanië.

Daar is tans 18 UWC-skole en -kolleges oor die wêreld, met ‘n internasionale kantoor in Londen. Japan is een van die kleinste UWC skole, met slegs ongeveer 200 studente van oor die wereld, tussen die ouderdomme van 15-18 jaar oud.

Die Hoërskool Hartbeespoort is uiters trots op dié leerling en wens hom alle voorspoed toe.