Hartbeespoort-skoonheid in lyn vir gesogte voorbladgesig

Die mooie Heidi Nel, ‘n ma van drie van Hartbeespoort, is in lyn om die voorbladgesig van die gewilde SARIE-tydskrif te word. Heidi is pas as een van die 30 finaliste in dié gewilde kompetisie aangewys.

Heidi Nel

“Ja, ek was verras Daar het duisende vroue ingeskryf. Ek was nooit van plan om vir ‘n skoonheidskompetisie in te skryf nie, maar toe ‘n professionele fotograaf sulke mooi foto’s neem, besluit ek hoekom nie…” sê die 46-jarige Heidi, wat meer soos haar 18-jarige dogter se suster lyk as haar ma.

Heidi, die eienaar van Heidirella’s Petal-Cakes in Hartbeespoort, is bekend vir haar unieke ‘cupcake’-kunswerke wat landswyd in aanvraag is. Sy besit ook ‘n leessentrum by die Xanadu Private School.

Die onverwagse nuwe wending in haar lewe het alles begin met ‘n ‘makeover’ deur die bekende televisieaanbieder, grimeerkunstenaar en fotograaf, Willem Botha. “Ek wou nog altyd ‘n ‘makeover’ gehad het en toe byt ek vas en ek en my dogter gaan saam. Hy is ‘n kunstenaar en ek was verstom met die resultate en foto’s. Kort daarna is die Voorbladgesig-kompetisie aangekondig en ek het impulsief ingeskryf. Wie nie waag nie, wen nie!” En nou is sy ‘n finalis! “Dit is nie ‘n skoonheidskompetisie nie, dit is iets uniek. Ek is nie die soort mens wat vir ‘n skoonheidskompetisie sal inskryf en in my baaikostuum rond pronk nie.” Sy trek ‘n komiese gesig. “Maar, dit is ‘n voorreg om deel te wees van die soektog na die voorbladgesig.”

Die top vyf word in September aangewys waarna die vyf finaliste vir drie dae in Kaapstad gefotografeer sal word. Die wenner word op 3 November angewys.

“Dit sal natuurlik heerlik wees om een van die top vyf te wees en die drie dae in die Kaap saam met stiliste en fotograwe klink baie lekker. Ek glo egter dinge gebeur soos dit moet en my motto in die lewe is: Blom waar jy geplant word en wees jou unieke self. Soos mens ouer word, leer jy om net jouself te wees. Jy hoef nie soos ander te wees nie.”

En wat sê haar gesin? “My man is maar ‘n man van min woorde. Ek dink sy reaksie was iets soos ‘oe-oe…’ En my kinders is min gepla met hul ma se dinge,” lag sy.