Hartbeespoort-skrywer deel van baanbrekerroman

René van Zyl

Die bekende skrywer van Hartbeespoort, René van Zyl, is een van 22 Suid-Afrikaanse skrywers wat gekies is vir ‘n unieke projek om saam ‘n roman, Op Pad na Grysberg, te skryf.


“Op Pad na Grysberg is ‘n baanbrekerroman waaraan 22 van die van die land se grootste Afrikaanse skywers deelgeneem het. Dit sluit in skrywers soos Kerneels Breytenbach, Madelein Rust, Irna van Zyl, Annerle Barnard, Elsa Winckler, Sidney Gilroy en Jan Vermeulen. Die projek is deur die bekende skrywer, Stefaans Coetzee, gelei,” sê Rene.
Dit is ‘n unieke fantasie-groeproman deur Suid Afrika se knapste skrywers wat temas van identiteit, verbondenheid en die aard van komplekse, gedeelde menslikheid ondersoek. Elke skrywer het ‘n hoofstuk geskryf sonder om werklik te weet hoe dit gaan eindig en die eindproduk is briljant.
Op pad na Grysberg vertel die storie van M, ‘n vrou wie se menswees deur die ongenaakbare elemente van ‘n post apokaliptiese wêreld afgetakel word. Sy rou ook, want haar seun het weggeloop om hom naby Grysberg, die mistieke baken wat bo die landskap uittroon, te gaan vestig. Een aand besluit sy om hom daar te gaan soek, maar die tog soontoe is gevaarlik en die vraag is of sy die moed sal hê om die reis te voltooi en haar seun weer sien?
René is bekend vir haar samesweringsrillers, Die Alfadokument en Die Omegakomplot, asook verskeie romanse. Sy het vanjaar ook twee jeugromanse gepubliseer, naamlik ‘Die Monster in my Melkskommel’ en ‘Tuimeltrein’.
“Ek voel gevlei om deel te wees van die unieke Grysberg-projek veral omdat ek in geselskap is van soveel befaamde skrywers. Hierdie storie gaan jou nie los nie. Dis boeiend, vol verrassings en selfs die skrywers kan nie wag om te lees hoe dit eindig nie.”
Vir meer inligting oor die boek, kontak tertia@naledi.co.za of besoek www.naledi.co.za.