René van Zyl, ‘n bekende skrywer van Hartbeespoort, het pas die gesogte Imbali-toekenning van ROSA (Romance Writers Organisation of SA) vir een van haar romanse ontvang.

Die SuperRomanza, getiteld, Storm vol Liefde, is deur Lapa Uitgewers uitgegee.
ROSA is ‘n vereniging wat Suid-Afrikaanse romanskrywers ondersteun, aanmoedig en help met professionele ontwikkeling. Die ingeskrewe romanses is deur ‘n paneel van plaaslike en internasionale beoordelaars en boek-bloggers gefynkam alvorens die prys toegeken is. Daar is gekyk na onder meer intrige, genre, liefdeslyn, geloofbare karakters en subkarakters, dialoog, vloei van storie, redigering en algemene gebruik van die taal. As gevolg van die heersende pandemie is vanjaar se ROSA-toekenningseremonie aanlyn aangebied.
René is in die wolke oor haar prestasie. “’n Skrywers se lewe wissel nogal van hoë hoogtes na die donkerste dieptes. Die een dag is jou boek die beste verkoper en die volgende dag sit jy met jou hande in jou hare omdat die uitgewer dalk dink jy moet ‘n hele boek oorskryf voordat dit gepubliseer kan word. Om ‘n toekenning te kry vir uitmuntende skryfwerk deur so ‘n groot organisasie, is dus ‘n groot inspirasie en ‘n pluimpie vir enige skrywer,” sê sy.
René, ‘n oud-joernalis, skryf van kleinsaf en het reeds agt romans en ‘n samesweringsroman op die rakke. Sy het in 2013 ‘n Middeleeuse jeugavontuurverhaal, Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality, gepubliseer wat tans op Amazon as ‘n e-boek beskikbaar is.
“Ek is iemand wat passievol is oor die liefde en gelukkige eindes. Ek sien altyd die lig aan die einde van die tonnel en ek glo die humor wat ek in my stories gebruik, is iets unieks wat lesers baie geniet.”
Haar lewe was nog altyd vol uitdagings, veral die grootmaak van ‘n breingestremde seun wat tans 27 jaar oud is. “Sean, met sy positiewe gees, het my geleer dat ek hierdie lewe net gaan oorleef indien ek die humor in alles probeer raaksien. Ek moet kreatief besig wees om positief te bly.”
René en haar man, Anton, het die Kuierkidz-leersentrum en die informele Kuierkerk op Harties begin.
Storm vol Liefde is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels en by www.lapa.co.za en ook as ‘n e-boek.