René van Zyl

Die bekende Hartbeespoort skrywer, René van Zyl, se tweede jeugroman vir 2023, Tuimeltrein, is nou op die rakke.

Dit volg kort op die hakke van die onlange publikasie ‘Monster in my Melkskommel’ en dit bring die totaal gepubliseerde titels op haar naam op 20. Dié skrywer ryg behoorlik die boeke uit.
“Dié nuwe jeugavontuurverhaal speel nogal in Hartbeespoort af en vertel die storie van drie graad 11-leerders met uiteenlopende persoonlikhede en sosiale status wat skielik voor die gereg moet vlug nadat ‘n groeptaak ‘n vreesaanjaende rigting inslaan. Sonder selfone en met niemand wat in hul onskuld glo nie, moet Abby (langafstandatleet/cool girl), Jasper (gamer/bad boy) en Henri (drama queen/reënboogkind) voor die gereg vlug en kan slegs op mekaar staatmaak om hierdie tuimeltreinrit te oorleef.
Al is daar baie aksie en spanning, het René soos gewoonlik van heelwat humor gebruik gemaak om ook ‘n ligter noot te verleen.
“Ek wil hê dat jeugdige lesers moet kan identifiseer met die hoofkarakters en hul struggle met sosiale kwessies en die kommunikasiegapings tussen mekaar en tussen hulle en hul ouers. Die drie hoofkarakters het omtrent in my hart gekruip,” lag sy. “Elkeen is ‘n volronde, unieke tiener wat veg met hul eie emosionele kwessies. Die storie het so lekker geskryf juis omdat ek die Hartbeespoort-omgewing goed ken.”
René en haar predikantman, Anton, en hul gesin bly al 25 jaar hier teen die hange van die Magaliesberg.
René se vorige boeke sluit twee samesweringromans, Die Alfadokument en Die Omegakomplot, asook twee jeugboeke, Die Monster in My Melkskommel (2023) en Wee Monk’s Tale, The Secret of Immortality (2013) en verskeie Romanzas, waarvan haar Superromanza, Storm vol Liefde, die ROSA Imbali-toekenning vir uitmuntende skryfwerk in 2020 gewen het .
Tuimeltrein is geskik vir hoërskoolleerlinge van 13-17 jaar oud en selfs ouer lesers sal die boek geniet.
Dit is by NB uitgewers beskikbaar en kan aanlyn bestel word.

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident