Hartbeespoort-inwoner, Robert van Tonder, het pas saam met die bekende sanger, Helena Hettema, ‘n enkelsnit CD vrygestel en die liedjie, Moeder Natuur, wat deur Robert geskryf is, sal hopelik binnekort oor die radiogolwe gehoor word.

“Dit was ‘n groot eer om saam met so bekroonde kunstenaar te sing. Sy het ‘n ongelooflike talent en ek kan haar nie genoeg bedank vir die geleentheid wat sy my gebied het en dat sy gedink het ek is goed genoeg om mee saam te sing nie,” sê Robert.
Robert se gedig is getoonset op die musiek ‘Morning Mood’ van die Norweegse komponis, Edvard Grieg. Die lirieke is ‘n verheerliking van die natuur en die interafhanklike en simbiotiese verhouding tussen mens en natuur. “Die boodskap van die lied is om ‘n tyd lank stil te staan en te besin oor die vernietiging wat ons mee besig is. As daar nie ‘n Moeder Natuur is nie, is daar niks,” sê hy.
Robert het van kleinsaf gesing en sing steeds by troues en privaat geleenthede, maar hy het nooit gedink sy stem sal saam met ‘n kunstenaar soos Helena gehoor word nie. “Ek doen nie juis duette nie, maar Robbie se woorde oor die natuur en sy liefde vir musiek het my getref en die idee het posgevat,” sê Helena. Ons is reeds meer as 20 jaar vriende en hy het my nog altyd ondersteun en dit is lekker om hom nou te help. Boonop is die natuur een van my passies. Die ‘song’ gaan oor die behoud van die natuur en die herinner aan wat regtig saak maak, want sy is ons almal…”
Helene se pianis, Elsa Strating, het die verwerking gedoen.
“Ek en Robbie praat al so lank oor dié liedjie, ses jaar al dink ek, en nou het ons uiteindelik die geleentheid gekry om dit op te neem. Dit was vir my lekker om iemand wat wil en kan sing, en nie in die bedryf is nie, te kan help om sy stem te laat hoor. Hy het nou ‘n voet in die deur,” sê Helena.
“Ek beplan ‘n toekomstige CD met die tema ‘Towards the light’, ‘n reeks liedjies wat hoop gee, en Moeder Natuur sal perfek daarin pas.”
“Dit was net ‘n ongelooflike ondervinding om saam met die talentvolle en passievolle Helena te werk. Sy is ‘n ‘pro’ en ek kan haar nie genoeg bedank vir die geleentheid nie,” sê Robert. “En dalk, net dalk, kan dit lei tot iets meer…”