Hengelaars kan nou weer papgooi in Harties

Vissermanne kan nou weer na hartelus lyne natmaak in Hartbeespoortdam.

Volgens die jongste koronavirus-regulasies van die vlak 3 nasionale staat van inperking kan vissermanne nou weer visvang. Die gewone gedragsvoorwaardes geld egter nog steeds. Sosiale distansiëring, die dra van maskers en gereelde sanitasie moet streng toegepas word.

Die aankondiging in die staatskoerant vroeër die week vereis ook ‘n geldige visvanglisensie. Dit blyk egter dat die lisensies so skaars soos hoendertande is. Die plaaslike poskantoor in Schoemansville het geen van die lisensies nie en volgens gerugte sal die poskantoor by Damdoryn dalk teen die einde van volgende week van die lisensies beskikbaar hê.

Van die vissermanne met wie Kormorant gesels het is nie baie bekommerd oor die lisensie-vereiste nie. “Ons is nog nooit gepla deur enige beampte vir ‘n lisensie nie. Vis gaan ons vang. As enige iemand ‘n lisensie vereis moet hulle ons tog eers sê waar ons so ‘n ding kan kry?”

Schoemansville Oewerklub is vanaf Sondag oop vir hengelaars vanaf 08:00 – 17:00 en Meerhof Oewer van 06:00 tot 18:00.

“Stywe Lyne!”