Die 16-jarige Janko van der Merwe van De Wildt het sopas teruggekeer van die SA Ope-gholftoernooi waar hy teen groot name in sy eerste professionele toernooi deelgeneem het.

Janko van der Merwe (16)

“Ek het bietjie gesukkel, dit was ‘n baie lang baan, maar dit was ‘n wonderlike ondervinding,” sê die talentvolle jong gholfspeler. “En ja, ek was so klein bietjie geïntimiteerd, ek het saam met al die groot name in gholf gespeel. Vir my was dit ‘n groot prestasie. Dit was baie lekker.”

Janko was die jongste gholfspeler in die toernooi en het teen ervare spelers soos Thriston Lawrence, Bernaden Grace en Dean Burmester meegeding. Lawrence het die Ope gewen.

Janko is in Julie vanjaar as Suid-Afrika se onder-17 kampioen aangewys en is ook in die “Golf RSA Junior National Squad” ingesluit.

Dié jong man speel gholf sedert hy kan onthou en sy groot droom is om die nommer een gholfspeler in die wêreld te word. Hy is ‘n graad 10-aanlynleerder van Mountain Cambridge School. Hy het sedert kleintyd soveel moontlik tyd saam met sy pa op die gholfbaan deurgebring en op die ouderdom van drie het hy sy eerste toernooi gespeel. Hy het by die Magaliespark Gholfklub aangesluit toe hy agt was en op negejarige ouderdom het hy in Skotland aan die wêreldkampioenskappe deelgeneem en sesde in sy ouderdomsgroep geëindig. Hierna het hy onophoudelik ‘n streep wenplekke op verskeie toernooie ingepalm.

“Ek wil na skool kollege-gholf in Amerika speel en ek beplan om daar te gaan studeer om dit moontlik te maak.” Sy volgende groot toernooi is die interprovinsiale toernooi in die onder-19 span volgende week.

Also Read:

  • Categories: News
    Refentse residents again drowning in sewage
  • Categories: News
    Businesses rally together to improve and restore Brits
  • Categories: News
    Local flower wins another international award