Janko is SA gholfkampioen

Janko van der Merwe was net 18 maande oud toe hy begin gholf speel het! Hy het saam met sy pa, stok in die hand, op die gholfbaan rondgewaggel en op driejarige ouderdom sy eerste toernooi gespeel. Die 16-jarige Janko is pas as Suid-Afrika se onder-17 kampioen aangewys.

Janko van der Merwe.

Hy het die laaste rondte 7 onder baansyfer gespeel (65 houe) en die toernooi met 3 houe gewen. Janko is ook onlangs in die “Golf RSA Junior National Squad” ingesluit.

“Ek speel gholf vandat ek onthou en my groot droom is om die nommer een gholfspeler in die wêreld te word,” sê die graad 10-aanlynleerder van Mountain Cambridge School.

Janko het sedert kleintyd soveel moontlik tyd saam met sy pa op die gholfbaan deurgebring en op die ouderdom van drie het hy sy eerste toernooi gespeel.

“Nie baie goed nie, maar dit was die begin,” lag hy.

Hy het by die Magaliespark Gholfklub aangesluit toe hy agt was en op negejarige ouderdom het hy in Skotland aan die wêreldkampioenskappe deelgeneem en sesde in sy ouderdomsgroep geëindig. Hierna het hy onophoudelik ‘n streep wenplekke op verskeie toernooie ingepalm.

Janko se eerste toernooi toe hy drie was.

Hy erken hy het net een ding op die brein, en dit is gholf. Hy spandeer ses tot agt ure per dag op die gholfbaan. “Ek wil na skool kollege-gholf in Amerika speel en ek beplan om daar te gaan studeer om dit moontlik te maak. Ek weet nog nie wat nie, maar ek gaan studeer, darom werk ek nou hard aan my akademie om my toekoms te verseker.”

Janko vertrek ook binnekort na Italië vir ‘n gholftoer. ‘n Blink tekoms wink vir dié jong gholfspeler.