Jolizne (10) kry ‘n nuwe oor

“Sy kan nie wag vir haar nuwe oortjie nie en sien so uit daarna om uiteindelik oorbelle te kan dra.”

Jolizne Bester tydens ‘n onlangse besoek aan die dokter om haar nuwe oor te bespreek.

Die tienjarige Jolizne, die dogtertjie van bekende voormalige Brits-inwoners, Elizma en Johan Bester, kry uiteindelik November ‘n oor na die gesin se geliefde Jack Russel haar oortjie as 16-maande-oue baba afgebyt het.

‘n Duitse dokter, Prof Henning Frenzel, wat spesialiseer in oorrekonstruksie, sal in November die groot operasie in Suid-Afrika doen.

“Na Jolizne se oortjie afgebyt is, is ons met die oortjie in ‘n sakkie hospitaal toe. Dokters het aanvanklik die oortjie teruggewerk, maar dit het verkleur en is na ‘n week weer geamputeer,” sê Elizma. Dokters het van Jolizne se bobeenvel gebruik om die oorholte toe te maak.

“Die plastiese chirurg het gesê sy sal eers op vyf weer ‘n oortjie kan kry. Ons het Prof Frenzel gaan sien en hy het gesê ons sal moet wag tot sy tien is wanneer ‘n persoon se ore 90% volgroei is. Daar sal van haar ribbes gebruik word om die oorskulp te rekonstrukteer. Haar ribbes is vroeër vanjaar gemeet en ons is op 16 Augustus laat weet dat Prof Frenzel die operasie in November tydens sy besoek aan Suid-Afrika wil doen.”

Klein Jolizne kan nie wag vir haar nuwe oor nie. “Ek hoor gereeld hoe baie sy daarna uitsien. Sy dra ‘n bril en dit was maar moeilik met een oor, en nou met die maskers…”

Elizma sê daar is gelukkig geen skade aan Jolizne se gehoor aangerig nie. “Sy is ‘n gesonde dogtertjie wat grootgeword het sonder ‘n oor, maar sy wil graag oorbelletjies dra en sien verskriklik uit daarna,” lag Elizma.
Jolizne sal vyf dae in hoësorg dopgehou word voor sy ontslaan word. “Ons kan nie wag nie. Na agt jaar se hoop en glo, gaan dit uiteindelik gebeur en my kind sal weer albei haar ore hê.”

Die gesin se medies betaal nie vir die operasie nie omdat dit as ‘n kosmetiese prosedure beskou word. Volgens die betrokke dokters sal die operasie sowat R400 000 kos. “Ons het ook nie tyd gehad om voor te berei nie, aangesien ons gedink het die operasie sal eers naby aan die einde van volgende jaar plaasvind,” sê Elizma. “Ons as ouers wil net so graag hê ons dogtertjie moet normaal voel.”

‘n Fondinsameling vir Jolizne is op die backabuddy-platform begin en teen Dinsdag is sowat R116 000 ingesamel. ‘n Golfdag vind ook binnekort plaas om fondse in te samel. Mense wat wil bydra om vir klein Jolizne weer ‘n oortjie te gee, kan die fondsinsamelingplatform besoek by https://www.backabuddy.co.za/champion/project/jolizne.