Kabeldiewe weg met leë hande, inwoners sonder krag
Ifafi-inwoners was Vrydag weer sowat 12 ure sonder krag na kabeldiewe vir die hoeveelste keer op elektrisiteitskabels in Mauserstraat toegeslaan het.
Kabeldiewe het verlede jaar verskeie kere kabels in Ifafi gesteel wat soms dae-lange kragonderbrekings veroorsaak het. Kort na dit vervang is, het diewe weer toegeslaan. In Oktober het Xanadu Eco Estate bygedra om die koperkabels met aluminiumkabels te vervang om kabeldiefstal te stuit. Die kabeldiewe het Donderdagnag egter weer op dieselfde plek toegeslaan en die kabel probeer steel.
“Hulle het egter ontdek dat dit nie koperkabels is nie en dit net so gelos. Hulle het egter die veselkabel, wat in dieselfde plek begrawe was, geknip en daarvan gesteel,” het VF+-raadslid, Gullaume Clouston, gesê. “Inwoners is vir meer as 12 ure sonder krag en veselverbinding gelaat.”
Clouston sê dit is vreemd dat die kabeldiewe slegs sowat 50 meter vanwaar die substasie is die kabels kon oopgrawe sonder dat die veiligheidswagte by die substasie iets kon opmerk. “Die vraag is ook hoe weet die diewe telkens presies waar die kabels begrawe is?”