Karabo is reg vir wêreldkampioenskappe

Die agtienjarige Karabo Modirapule, ‘n rolstoeltennisspeler van Meerhofskool, maak reg vir die wêreldkampioenskappe in Portugal in Mei na hy onlangs vir die Suid-Afrikaanse rolstoeltennisspan gekwalifiseer het.

Karabo Modirapule (18)


Karabo is tans onder die top agt rolstoeltennisspelers in Suid-Afrika en hy droom groot. “Ek wil eendag ‘n Roger Federer wees,” glimlag hy.
Dié merkwaardige jong man wat serebraal gestrem is, speel van negejarige ouderdom rolstoeltennis. “Ek was van kleinsaf baie aktief, ek wou sport doen. Ek het nie regtig belang gestel in tennis nie, maar besluit om dit te probeer. Ek het dadelik daarvan gehou en dit het van daar ontwikkel.” Hy speel egter ook sokker en het verskeie medaljes op die Suid-Afrikaanse para-atletiekkampioenskappe in diskus en spiesgooi verower. “En ek gaan gim toe. Ek hou daarvan om aktief te wees.”
Hoe voel hy oor die geleentheid om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem? “Dit is opwindend, maar ek is ook so bietjie senuagtig… ek het nog nooit gevlieg nie. Dit is ‘n groot eer, en ja, ek is trots op myself. Ek oefen hard en sien uit na die kampioenskappe.”
Karabo woon in die Meerhofskool-koshuis en gaan naweke na sy ouerhuis in Letlhabile. En wat was sy ouers se reaksie op die groot prestasie? “My ma was bly en trots. My pa het net gesê ek sal my Engels moet verbeter,” lag hy.
Karabo is ook ‘n toegewyde student wat ‘n hoofstroom cirriculum volg en volgende jaar matriek skryf. “Ek wil na skool besigheidstudies studeer en ook ernstig rolstoeltennis speel. Ek werk daaraan om Suid-Afrika se top rolstoeltennisspeler te word!”
Die skool en gemeenskap wens Karabo alle sukses toe en glo hy gaan met die medaljes terugkeer.

Karabo in aksie.