Die gewilde jaarlikse Herfsmark van die Gereformeerde Kerk het vandag (Donderdag) afgeskop en beloof om vanjaar ekstra spesiaal te wees.

Die Herfsmark op die kerkperseel in Maraisstraat in Schoemansville, vier vanjaar sy 10de bestaansjaar en dit beteken sommer groot saamkuier vir Hartbeespoort-inwoners.
“Ons 10de verjaardag is vir ons ‘n besondere mylpaal en ons is nederig bewus dat ons dit nie sonder die volgehoue ondersteuning van die gemeenskap sou kon bereik nie. Die huidige finansiële klimaat met stygende rentekoerse, elektrisiteit-, brandstof- en voedselverhogings rus swaar op die verbruiker en ter viering van ons 10de verjaardag en om iets in die gemeenskap terug te ploeg, sal die teetuin- en slaghuisprodukte steeds teen 2021 pryse aangebied word,” sê die organiseerders van die mark.
Die mark word van 21 April tot 2 Mei aangebied en soos gewoonlik kan inwoners uitsien na uitstalling van gehalte produkte en die smullekker eetgoed waarvoor die mark so bekend is.
Hartbeespoort-inwoners kan hulle gereed maak vir ‘n week van inkopies en kuier.
Dié mark bied jaarliks aan mense die geleentheid om hul uitsonderlike produkte te vertoon en te verkoop. Stalletjies bied vanjaar uitstallings van handwerk en kuns, juwele, klere, dekor, meubels, varsgebak, vleis en nog baie meer.
En vir die kinders is daar ‘n prettige kindertuin met toesig wat hul ouers die geleentheid gee om rustig inkopies te doen.
Afgesien van die heerlike eetgoed wat gedurende die dag in die teetuin geniet kan word, is daar ‘n vasgestelde spyskaart vir aandetes.
Kom geniet ‘n heerlike aandete by die mark of kry net ‘n wegneemete.
Vir meer inligting besoek die webtuiste https://www.herfsmark.co.za/ of die Facebook-blad Hartbeespoort Herfsmark.