Kospakkies versprei vir mense in COVID-19-isolasie

Solidariteit in Brits, in samewerking met Laerskool Brits, het verlede week ‘n projek van stapel gestuur om mense wat weens COVID-19-infeksie in isolasie is, met kospakkies te voorsien.

‘n Laerskool Brits-leerder skryf ‘n boodskap op ‘n kospakkie.

“Ons het verlede week agtergekom dat daar groot nood is by gesinne in Brits wat in isolasie is weens COVID-19 en nie iemand het om vir hulle kos te bring nie. Solidariteit Helpende Hand Soetdoring-tak en Laerskool Brits het saamgespan om die projek op die been te bring om kos in te samel vir dié gesinne in nood,” sê Jolanda Louwrens, voorsitter van die tak.

‘n Versoek is in die gemeenskap uitgestuur en die reaksie was onmiddellik. “Ons het reeds soveel wonderlike skenkings van mense en besighede ontvang. Ons kon 104 kospakkies aflewer. Baie dankie. ”

Lede van die publiek en besighede het die voedseldonasies en benodighede vir ‘n gesin by die inry-aflaaipunt by die laerskool se parkeerarea afgelaai vanwaar dit na mense se huise geneem is.

Laerskool Brits se leerders het op elke kospakkie ‘n persoonlike boodskap gelaat.
Die projek het deel gevorm van Solidariteit Helpende Hand se Omgee-maand.
Kontak 061 054 4194 vir meer inligting.