
Ds Anton van Zyl, sy skrywervrou René en hul seun, Sean.
Die gewilde informele Harties Kuierkerk het Dinsdag op Mandela Dag hul 13de verjaarsdag gevier.
““Ons eerste amptelike mega-diens as onafhanklike kerk was op 18 Julie 2010 by Xanadu se winkelsentrum in ‘n reuse lokaal. Die mense moes nog hul eie opvoustoele saambring, maar die vroegoggend koffie en beskuit, wat van dag een deel is van ons dienste, was daar. Dit was die begin van ‘n lekker informele bymekaarkoms, waar almal welkom is en nooit hoef te voel hul vrae en vrese is te vreemd om oor te praat nie,” sê ds Anton van Zyl, die stigter van Kuierkerk.
Die Kuierkerk-uitreik het aanvanklik as ‘n informele selgroep in 2006 begin juis vir kerkseer en kerklos mense. Dit was nadat Anton sy voltydse teologiese studies op Tukkies voltooi het. Hy het aanvanklik ingenieurswese studeer, maar na sy seun, Sean, se vreemde virussiekte en gevolglike breinskade in 1994, na teologiese studies oorgeskakel. Vandag spog hy met ses grade, waaronder vier meestersgrade in onder meer gesinsberading, missiologie en antieke tale.
Dit is wat Anton se gemeentelede veral waardeer van hom: sy wye kennis, sy verstaan van God se Vaderhart en natuurlik sy groot visie. Kuierkerk is nou by die gemeenskap betrokke en is bekend vir dorpskoonmaakaksies, manne-en vroue-kampe, musiekblyspele, die Zakiti-feeste wat al ‘n instelling op Hartbeespoort geword het, sy gereelde Bybelskole en die Vul-’n-magie-uitreik wat mense in die omgewing met kos voorsien.
“Die ‘preke’ is eerder leersessies om mense bevoeg te maak om vandag se lewe te kan hanteer. Om die Bybel se groot boodskap van liefde te leer ken, om God se plan met die mens te leer verstaan – nie om te hoor hoe sleg en sondig jy is nie, maar om te fokus op groei en om ‘n seën vir die mensdom te wees,” sê Anton wat ook onlangs ‘n boek, Van kakiebos tot Kremetart, gepubliseer oor sy interessante lewe en sy stoei met God en mens oor die jare,
“Elkeen is uniek geskep en loop ‘n eiesoortige geloofspad met God, daarom kan ons almal by mekaar leer, sonder oordeel en verdoemenis. Dis wat ons laat groei in ons eie geloof. Ons dank die Here vir sy voorsiening en genade en dat ons steeds na al die jare lekker informeel om Sy Woord kan kuier.”