Kuierkidz bedank Hartbeespoort-gemeenskap

Die Kuierkidz leersentrum vir breingestremdes bedank almal wat so goedgunstiglik materiaal geskenk het om die nuwe leersentrum te voltooi.

Hildegard Schulte by die palisadeheining wat deur Xanadu Nature Estate aan Kuierkidz geskenk is.

“Ons wil graag elke persoon in die gemeenskap bedank vir hulle oop hande en harte met die bou van die nuwe perseel reg agter Xanadu Nature Estate,” het René Coetzee, die skoolhoof, dié week gesê.

Sedert die sentrum einde Oktober 2020 by hul vorige huurhuis in Melodie kennis gegee is, het ds Anton van Zyl, ‘n ouer en stigterslid van Kuierkidz, ingespring en begin om ‘n stoorruimte te omskep in ‘n plek van veiligheid vir die kinders wat lei aan verskillende breingestremdhede en wat daagliks terapie ontvang.

Daar is op facebook hieroor berig en Kormorant het die gemeenskap ingelig oor die behoeftes en benodighede vir die bou van ‘n perseel en die gemeenskap het groothartig gereageer. Individue het bygedra met verskeie boubenodighede soos toilette, wasbakke, glasdeure en sement, terwyl heelparty besighede ook hul hande oopgemaak het.

Xanadu Nature Estate het onlangs 75m palissadeheining wat by die landgoed vervang is, aan die leersentrum geskenk. “Onder leiding van Hennie Cronje en sy span, het hulle nie net die heining kom aflaai nie, maar ook opgesit en geverf. Dit is ‘n reuse geskenk.”

Alu-Pro Designs en Glass and Aluminium het al die vensters en deure geskenk en ingesit. PWV sekuriteit het agt waaiers en Dreiers twee waaiers geskenk om die warm dae draaglik te maak.

SA Bricks het 15 000 bakstene geskenk en Dairy Standard Agency die deure. Doxa Deo Kerk het deurhandvatsels en verf geskenk.

“Daar is so baie mense om te bedank. Ons wil graag elke gemeenskapslid bedank vir so baie seën en gebede. Ook vir Anton van Zyl en sy span wat sonder ophou gewerk het sedert begin November om die gebou reg te kry. Hierdie groepie kinders met hulle spesiale behoeftes het nou ‘n lieflike tehuis waar hulle kan sosialiseer en terapie ontvang.”
Kuierkidz is in 2008 begin vir kinders met breingestremdhede en het gegroei van twee tot 21 leerders en 11 opgeleide tutors.

Vir navrae kontak gerus vir René by 082 789 2572 of per e-pos: kuierkidz101@gmail.com