Kuierkidz leersentrum vir kinders met spesiale behoeftes wil graag die gemeenskap en elke speler wat betrokke was by hul gholfdag op 24 Junie bedank vir hul oop hande en liefde.

Meer as 100 gholfspelers het Saterdag balle afgeslaan tydens die gholfdag by Magaliespark. Die 22 leerders van die Kuierkidz leersentrum vir breingestremdes in Hartbeespoort se ouers het die dag bygewoon en gehelp met die organisasie en inskrywings. Meeste van die leerders was teenwoordig en het die uitstappie na die gholfbaan vreeslik geniet.
Die skoolhoof, René Veertjie Coetzee bedank almal wat betrokke was. “Dankie vir elke donasie, borg of speler. Sonder die gemeenskap kan die sentrum nie sy deure oophou nie. Die gholfdag is ‘n jaarlikse instelling wat tydens die twee jaar van Covid nie kon plaasvind nie, daarom is die Kuierkidz dankbaar vir die sukses van dié fondsinsameling.”