‘n E-resepteboek met maklike japtrap resepte, spesiaal vir oorlaaide ouers van woelige kinders, word plaaslik deur skrywer René van Zyl beplan om fondse vir die Kuierkidz Leersentrum in te samel.

Die Kuierkidz Leersentrum se kinders en personeel.

René, wat self ‘n breingestremde kind by Kuierkidz het, vra dat enigeen wat deel van dié propjek wil wees, hul maklike en vinnige resepte vir haar stuur. “Sodat ek ‘n ‘easy-kapeasy’ kookboek kan saamstel. Ouers van breingestremde kinders, sowel as werkende ouers het eenvoudig nie meer krag om saans te dink aan kook en ingewikkelde resepte nie. Die resepteboek kan uiteindelik deur enigiemand gebruik word, van studente tot afgetredenes,” sê sy.

“In vandag se tyd het niemand meer lus om lank voor die kospotte te staan nie. Almal van ons het iewers ‘n lekker maklike resep (ook randrekkers) wat net in jou laai of in jou kop rondlê. Gee dit gerus aan vir ons sodat ons in die moeilike tye ‘n e-boek kan saamstel waarvan fondse vir die Kuierkidz-sentrum kan gaan. Pas asseblief jou resep ‘n bietjie aan soos jy gewoonlik sou doen, sodat ek nie iemand professioneel se resep steel nie! Dit kan in Afrikaans of Engels wees. Dankie vir elkeen wat ‘n inset lewer.”

Lesers, en diegene wat hou van bak-en-brou, word aangemoedig om hul gunsteling, maklike resep vir René te stuur om in die kookboek opgeneem te word. Moet asseblief nie resepte uit ander publikasies kopieër nie.

Kuierkidz is ‘n nie-winsgewende maatskappy en ‘n privaatsentrum vir kinders met spesiale behoeftes wat andersins nie in gewone skole opgeneem kan word nie. Daar word vir elke kind se individuele behoeftes voorsiening gemaak. Die sentrum is totaal afhanklik van die ouers en fondsinsameling.

“Veral nou met die pandemie, moet ons dringend ‘n plan maak,” sê René.

Stuur jou resep en jou besonderhede aan rene@skemerberg.co.za of WhatsApp René by 0823964100.

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident