As daar ooit ‘n storie van hoop, deursettingvermoë en lewensvreugde was, is dit dié van die talentvolle kunstenaar Lezelda Lubbe wat pragtige kunswerke met haar mond skep!

Lezelda Lubbe

Lezelda (51) is met die rare siekte, ‘Phocomelia’, gebore. Sy het geen arms nie en onderontwikkelde bene sonder knieë, maar haar gebrek het haar nooit gestuit nie. Dié besondere vrou het na skool besluit om kuns haar lewe en inkomste te maak, en haar deursettingsvermoë en positiewe lewensuitkyk het gesorg vir haar reputasie as een van Suid-Afrika se suksesvolle mond-en-voetskilders.

“Ek het met my gebrek grootgeword, so dit was nie iets waaraan ek gewoond moes raak nie. Ek gebruik my voete soos wat ander mense hulle hande gebruik. Ek is na die Hope-skool vir liggaamlik gestremdes waar ek die gewone matriek geskryf het. My ouers het my baie selfstandig grootgemaak en geleer om dinge self te doen. Na skool het ek egter besef ek sal nooit ‘n gewone loopbaan kan volg nie. Ek kan nie bestuur nie, hoe gaan ek by die werk kom? Wie gaan my help as ek moet badkamer toe? Daar was baie faktore en ek moes iets kry wat ek van die huis af kon doen,” vertel sy by haar huis in Schoemansville waar sy en haar man, Ivan, en drie hondekinders woon.

Lezelda het van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond-en Voetskilders gehoor en ‘n nuwe wêreld het vir haar oopgegaan. “Ek het nooit aan kuns gedink nie. Ek het by hulle aangesluit en begin skilder. Ek was nie baie goed in die begin nie,” lag sy. “Maar ek het deurgedruk en sedertdien maak ek ‘n goeie bestaan uit my kuns en ek geniet dit.” Sy gebruik ook haar tone om ‘n skildery se agtergrond te skilder en haar mond vir die fyner werk. Haar kwasse word verleng, want anders trek jou oë skeel!”

Sy stal gereeld uit en doen demonstrasies wat toeskouers verstom. “Ja, baie kunstenaars is verstom en sê hulle kan nie glo wat ek doen nie,” lag sy. “Maar ek gaan steeds vir kunsklasse, ek bly ‘n student. Ek leer steeds.”

Sy lewe andersins ‘n vol lewe. “Ek is baie behendig met my tone. Ek werk op die rekenaar en foon. Ek kan selfs ‘n knoop met my tone aanwerk,” skerts sy. “Ek doen ook tapisseriewerk, eet met my tone en borsel my tande… dit is my hande.”
En as sy wil inkopies doen, spring sy op haar elektrise rystoel en vat die pad Village Mall toe. “Ek het ‘n rugsak en as ek by die winkel inkom, vra ek vir hulp. Almal is baie bereidwillig om te help.”

Sy is die afgelope 15 jaar met Ivan getroud wat “my steunpilaar is”. Hy doen alles vir my wat ek nie kan doen nie. Ons het op Mixit ontmoet en toe wil hy kom kuier. Ek was maar versigtig, maar van die begin af het hy gesê my gebrek pla hom nie.” En dan is daar hulle drie hondekinders waarvoor hulle baie lief is. “Omdat ek nie kan kinders hê nie, is dit ons kinders,” sê sy.

Lezelda is ook passievol om produkte van die mond-en voetskilders te bemark. Kunswerke van skilders word op allerlei huishoudelik artikels soos kussingslope, tafellappe, handdoeke en vatlappe gedruk en verkoop. “Ek is geseënd en wil ander help.”

Lezelda stal op Vadersdag, 19 Junie, by Dozi’s Back to the Roots uit wanneer die gewilde Joe Black daar optree.
Kontak Lezelda by 060 526 4372 en die Mond-en-Voetskildervereniging by 044 873 4584.

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident