‘n Kleinhoewe-eienaar van Kameeldrift-Wes het Sondagaand kop gehou en saamgespeel tot hy by sy vuurwapen kon uitkom toe hy deur drie gewapende rowers oorval is.

In ‘n video, wat deur ‘n sekuriteitskamera opgeneem is, kan mens hoor hoe die hoewe-eienaar pleit en saam met die aanvallers beweeg tot hy sy wapen bereik. Hy gryp die wapen en vuur skote af waarna die drie aanvallers vlug. Die video wys hoe drie mans uit die donker die inwoner bekruip waar hy in sy werkswinkel werk en hom dan van agter gryp.
Volgens Nico van Vuuren, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) Sektor 4 in Kameeldrift wat eerste op die toneel was, was die hoewe-eienaar (wat nie geïdentifiseer wil word nie) besig om sy werkswinkel vir die volgende dag reg te pak toe drie mans hom oorval het. Hulle het balaklavas gedra en was gewapen met ‘n vuurwapen en mes. Hulle het die inwoner van agter gegryp.
“Sy vuurwapen was op ‘n tafel in die werkswinkel en hy het probeer kalm bly en gesmeek vir sy lewe terwyl hy na sy wapen beweeg het. Die rowers het gelukkig nie die wapen opgemerk nie. Hy het die wapen gegryp en skote afgevuur. Hulle het onmiddellik gevlug,” het Van Vuuren gesê. Een van die rowers is vermoedelik gewond.
GPF-lede was vinnig op die toneel en het die spore gevolg. “Ons het ‘n bloedspoor gevind en die mes van een van die aanvallers opgetel. “Die spoor het egter in ‘n stadium doodgeloop en ons het die toneel aan die polisie oorgegee.”
Die sekuriteitsvideo van die aanval is die afgelope week wyd op sosiale media versprei en sosiale mediagebruikers het die inwoner vir sy braafheid geloof.