Die bekende Hartbeespoort-inwoner en legendariese ultramarathonatleet, Vlam Pieterse (65), is ernstig beseer toe hy Sondag deur gewapende rowers in sy huis oorval en aangerand is.

Vlam is weens sy ernstige beserings in die hoësorgeenheid van die Kloof-hospitaal in Pretoria opgeneem na die aanval.
Volgens sy vrou, San, was Vlam alleen tuis op hul hoewe in Melodie en het televisie gekyk toe drie gewapende rowers hom ongeveer 13:30 oorval het. “Die rowers het hom met my wol vasgebind. Hulle het hom vreeslik aangerand en wou hom dwing om die kluis oop te sluit. Hy is herhaaldelik oor die hele lyf aangerand en geskop en ek dink hulle het hom toe vir dood gelos. Die rowers het die hele huis omgekeer. Alles was uitgegooi en hulle het uiteindelik met die televisiestel, musieksentrum, Vlam se beursie en selfoon gevlug,” sê sy.
Vlam was vermoedelik bewusteloos en kon later daarin slaag om ongeveer 15:00 by sy seun se huis, sowat 50m ver, uit te kom om hulp te kry. Hy het onder meer rugbesering opgedoen en sewe ribbes is gebreek.
“My seun en sy gesin het niks gehoor nie. Die rowers het toegang tot die hoewe gekry deur die veiligheidshek van die spoor af te lig.”
Volgens San is Vlam in baie pyn, maar dit gaan beter.
Die Hartbeespoort polisie ondersoek ‘n gewapende huisroof-saak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Vlam is legendaries in ultramarathon-kringe. Hy het 27 keer die Comrades gehardloop en is bekend vir Vlam se Bus wat hy tydens die Comrades-wedrenne gelei het. Hy is ‘n lid van die Hartbeespoort Marathonklub.