
‘n Ma (49) en haar agttienjarige seun is Vrydag in die vroeë oggendure deur vier gewapende rowers in hul huis in Scottstraat in Schoemansville oorval, vasgebind en beroof.
“Die ma en seun het in hul onderskeie kamers in hul huis in ‘n kompleks op die Hoek van Scott- en Harringtonstraat geslaap toe vier rowers, elk met ‘n handwapen, ongeveer 04:30 die sitkamerdeur oopgebreek het. Hulle is na die kamers en het die ma en seun wakker gemaak. Beide is op hul beddens vasgebind en ‘n lap is in die ma se mond gedruk. Die rowers het ‘n kussing oor haar kop geplaas,” het Romano van der Spuy, voorsitter van die Hartbeespoort gemeenskapspolisiëringsforum, gesê.
“Die rowers het die huis geplunder en ondermeer met twee televisiestelle, selfone, skootrekenaar en juwele gevlug.”
Die ma en seun het gesukkel om hulself los te kry voor hulle hulp kon ontbied. Buurtwaglede en die polisie was binne minute op die toneel.
“Die ma en seun is nie beseer nie, maar baie getraumatiseerd,” het Van der Spuy gesê.