Die Madibeng munisipaliteit het ‘n aanmaningsbrief van AfriForum ontvang na dit aan die lig gekom het dat die munisipaliteit ‘n sloot vanaf die Rietfontein-rioolpompstasie na die Swartspruit gegrawe het om rou riool na die dam te herlei.

Die munisipaliteit het ‘n sloot gegrawe om riool na die dam te herlei.
Die Afriforum Hartbeespoort-tak eis dat die munisipaliteit die onwettige storting onmiddellik moet staak en het die munisipaliteit tot 18 Julie kans gegee om ’n aksieplan vir die regstel van dié besoedeling uiteen te sit en ’n vergadering met AfriForum te reël om die plan van stapel te stuur.
“Ons kan nie toelaat dat hierdie situasie voortduur nie. Dié onwettige rioolstorting is ’n ernstige oortreding, dit beskadig die omgewing en hou ’n gesondheidsrisiko vir mens en dier in. AfriForum se regspan sal die nodige regstappe neem om te verseker dat die krisis opgelos word,” sê Nelis Janse van Rensburg, ondervoorsitter van die Hartbeespoort-tak.
In die brief aan die munisipaliteit wys Afriforum daarop dat die nasionale omgewingsbestuurswet vereis dat redelik stappe geneem moet word om besoedeling te verhoed. Volgens die wet kan enige persoon wat verantwoordelik is vir besoedeling krimineel vervolg word.
Afriforum eis dat the munisipale bestuurder die riooloorloop onmiddellik aanspreek. Die munisipaliteit het teen Woensdag nie op die aanmaningsbrief gereageer nie.
“Indien die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit nie aan hierdie versoek gehoor gee nie, sal AfriForum se regspan die nodige stappe neem,” het Janse van Rensburg gesê.
AfriForum se Hartbeespoort-tak maan inwoners om waaksaam te wees en die situasie dop te hou. Die tak sal die kwessie monitor en die gemeenskap op hoogte hou.
By navraag het die munisipaliteit aan Kormorant gesê the pompstasie het elektriese probleme weens koperdiefstal en dat dit rioolstorting veroorsaak. Die vraag oor die sloot wat gegrawe is om die riool na die dam te kanaliseer, is nie beantwoord nie.