Man (65) twee keer tydens plaasaanval in Hartbeespoort geskiet

‘n Remhoogte-inwoner in Hartbeespoort is in ‘n kritieke toestand na hy Vrydag in die vroëe oggendure twee keer tydens ‘n plaasaanval geskiet is.

Pieter (65) en Ann (61) Nel is ongeveer 02:30 deur vier gewapende rowers in hul huis oorval. “Die egpaar het geslaap en dit wil voorkom asof Pieter wakker geword en dalk gaan ondersoek instel het. Ann is deur een van die rowers wakker gemaak en gevra waar is haar man is. Toe sy sê sy weet nie, het hy gevra waar die kluis en juwele is. Toe hoor sy skote en nog twee rowers sleep haar man die kamer in,” het Gert du Plessis van Oostermoed Beskermingsdienste gesê. Een rower het buite die huis wag gehou.

“Pieter is in die bors en been geskiet. Die rowers het Ann en haar ernstig gewonde man aangerand en Ann beveel om die kluis oop te sluit. Terwyl hulle met haar man besig was, het sy daarin geslaag om uit die kamer te hardloop. Sy het die kamerdeur toegeslaan en gesluit en in die gang afgehardloop om ‘n selfoon te kry. Die rowers het die deur afgebreek en het in ‘n motor gespring en gevlug.”

“Ann het nie haar bril opgehad nie en het blindelings ‘n nommer op haar man se selfoon gebel. Dit was die nommer van ‘n kollega en hy het na hulle huis gehaas. Die kollega het die swaargewonde Pieter in sy motor gelaai en met hom na die Brits Mediclinic gejaag,” het Du Plessis gesê. ‘n Ambulans van die Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) het hulle op pad ontmoet.

Intussen het ‘n plaaswerker na ‘n buurplaas gehardloop om hulp te vra. Die beskermingsdienste is ontbied. “Ann het ernstige kopwonde opgedoen en is ook hospitaal toe geneem.” Die Hartbeespoort polisie was kort daarna op die toneel.

Die rowers het ondermeer ‘n selfoon en rewolwer gesteel. Hulle is steeds op vrye voet.