Ek is verwonderd, oorbluf, ontroer en baie dankbaar… Dit wys jou, mens is nooit te oud om iets nuuts te probeer nie!”

Marti Zijl
het pas op 75 haar eerste boek, Die Geur van Malva, op die rakke, en dit na sy vir die eerste keer nege maande gelede begin skryf het! Ouderdom skrik hierdie jarelange inwoner van Magaliespark nie af nie. Sy bestuur nog haar eie besigheid en het slegs drie jaar gelede as sosiale werker afgetree. “Ek hoop wat ek nou gedoen het bemagtig dalk ander wat gedink het hulle is te oud,” lag sy.
Nou hoe byt die skryf gogga eers op 75? “Jong, in my meer as 50 jaar maatskaplike werk het ek baie stories deurleef wat my bygebly het. Maatskaplike werk is ‘n roeping, dis in jou bloed. En ek was bevoorreg om soveel te kon beleef. Ek het egter nooit aan skryf gedink nie,” sê sy.
“My man is ‘n paar jaar gelede oorlede en na my aftrede het mens maar meer tyd om te dink. En toe op ‘n dag luister ek na ‘n RSG-onderhoud met die skrywer/uitgewer, Marida Fitzpatrick, en hulle vra haar hoe begin mens skryf. Sy sê toe jy gaan sit net en skryf! En toe besluit ek om te probeer… Ernest Hemmingway het gesê jy kan net skryf wat jy gehoor, gesien en beleef het. En ek het soveel stories beleef. “Marti het begin met ‘n raamwerk en toe sy verneem haar kinders kan nie Kersfees saam met haar deurbring nie, het sy gaan sit en skryf. Eers met die hand en toe later op die rekenaar. En “Dit het maklik gevloei. Ek is ‘n naguil, ek kry baie gedoen in die donker en dit was my skryftyd. Drie maande later was ek klaar. Einde Maart het ek met ‘n uitgewer vergader en gevra of die boek uitgeebaar is. Ek was oorbluf toe die uitgewer sê dit is. En hier is Die Geur van Malva! En asof dit nie verbasend genoeg is nie, is ek nou genader vir ‘n moontlike fliek gebaseer op die boek vir KykNet, Showmax en Netflix. Is dit nie verskriklike nuus nie?”
Die Geur van Malva vertel die verhaal van die dogter van ‘n welgestelde familie wat op ‘n groot plaas woon. “Sy is die spogdogter aan wie baie verwagtinge gestel word. Sy het min regte en sê in haar lewe. Sy gaan studeer regte, raak sy verlief en word swanger. Die boek raak aan politiek, geloof en al daai goed.”
Sy is steeds verbaas dat haar lewe skielik so wending geneem het. “Wie sou nou kon dink dat ek op 75 ‘n skrywer word. Hopelik is dit nie my laaste nie. Die Here is vir my net goed en as Hy my spaar, gaan daar nog ‘n boek kom. Ek het twee idees gehad toe ek besluit het om te begin skryf. Met genade sal die ander idee ook ‘n boek word.”
Is sy trots op haarself. “Natuurlik is ek trots op myself. Moenie dat die ouderdom jou kelder nie. As jy ‘n talent het, beproef dit op enige ouderdom. Dit is nooit te laat nie!”