‘n Gesin van Meerhof is tans sonder ‘n tuiste na hul huis Donderdag in die vroeë oggendure afgebrand het.

Frederick Redelinghuys en sy vrou Rina, en sy swaer, Riaan van Zyl het kort voor 03:00 geslaap toe Frederick van geluide in die huis wakker geword het. “Ek het gedink dit is ‘n inbreker, maar toe ek gaan ondersoek instel, sien ek die vlamme in die werkswinkel,” het hy gesê.
Die gesin en hul ses honde kon daarin slaag om uit die huis te kom voor dit kort daarna in ligte laaie was. “Binne sowat 10 minute het die hele huis gebrand.”
Afriforum se brandspan was vinnig op die toneel terwyl daar vir die Madibeng-brandweer gewag is. Volgens ooggetuies was die brandkraan toegegroei en die brandweertrok het bo-op die brandkraan gestop. Die huis is in puin gelê.
“Ons het alles verloor. Daar is nog ‘n yskas wat werk en een bank,” het Redelinghuys gesê.

Die gesin bly tans in hul tuin. “Iemand het vir ons ‘n karavaan geleen, maar ek en my vrou slaap op die gras onder die boom. Ons is dringend op soek na ‘n geskikte huis om te huur.”