‘n Veertienjarige Hoërskool Wagpos-leerder is in ‘n kritieke toestand na sy erge brandwonde opgedoen het toe sy van haar pa se bakkie afgeval het terwyl hulle besig was on ‘n veldbrand te blus.

Elisma Wilken is tans in ‘n kritieke toestand in die Netcare Clinton hospitaal. Die familie woon in Randfontein en dit blyk dat sy Sondagoggend agter op haar pa se bakkie was terwyl hulle op ‘n buurplaas gehelp het om ‘n veldbrand te bestry. Elisma het van die bakkie afgeval en in die vuur beland.
Die Hoërskool Wagpos het gesê hulle het later die week ‘n ontmoeting met Elisma se ouers en sal dan moontlik terugvoer kan gee oor haar toestand.
Die skool het op sy Facebook-blad gesê Elisma is tans onder sedasie en daar word vir gebede vir haar en haar gesin gevra.