Miljoene liter Randwater gemors

Ten spyte van gereelde dreigemente dat Madibeng se Randwater-toevoer verminder gaan word weens oortrokke rekenings, vloei miljoene liters water die afgelope maande glo vanuit die Silkaatsnek-reservoir langs die R511 af.

Volgens DA-raadslid, Erna Rossouw, het raadslede die afgelope vier jaar verskeie versoeke aan die munisipaliteit gerig om ‘n klep te installeer om die oorvloei te reguleer. “Dit val egter op dowe ore.”

Grondeienaars in die omgewing is ook bekommerd oor die vermorsing en die water wat moontlik die R511 kan laat verbrokkel.

“Die water kom in ‘n rivier teen die berg af wanneer die reservoir oorloop,” het een gesê.

Tumelo Tshabalala, woordvoerder vir die munisipaliteit, het dié week gesê die munisipaliteit gee die nodige aandag aan die saak.