Twee jong mans het Saterdag ternouernood aan die dood ontkom toe hul motor by Silkaatsnek by Hartbeespoort aan die brand geslaan het.

Jaco Viljoen (24) en ‘n vriend was ongeveer 12:00 op pad Brits toe toe die Ford Fusion naby die vulstasie op die R511 begin rook het. “Ek het gesien voertuie flits ligte en blaas toeters en toe begin al die liggies in die kar aangaan. Ek het rook gesien en vir my vriend gesê ek moet stop. Daar was egter geen remme nie. Ek wou by die vulstasie inswaai, maar die stuurwiel het ook gesluit,” het Jaco aan Kormorant vertel.
‘n Persoon in ‘n bakkie, wat gesien het vlamme kom reeds onder die motor uit, het voor ons ingeswaai om ons van die pad te druk. Teen die tyd dat die kar tot stilstand gekom het, het die vlamme oor die enjinkap na die kajuit gebrand. Die kar was vol rook en ons kon nie asem kry nie. Niks van die elektronika het meer gewerk nie en ons kon nie die deure of vensters oopkry om uit te kom nie. Ek kan nie die gevoel beskryf nie, ek het gedink ons gaan nou doodbrand en daar is niks wat iemand daaraan kan doen nie.”

Teen dié tyd was heelwat mense om die motor en kon daarin slaag om die deure oop te forseer. “Ek weet nou nog nie hoe hulle dit reggekry het nie. Hulle het ons uitgehaal en die kar het in vlamme opgegaan. As dit nie vir hierdie mense was nie, was ons dood.”
Jaco sê dit is ‘n bestiering dat die motor se stuurwiel gesluit het aangesien dit ‘n tragedie sou veroorsaak het as die kar by die vulstasie aan die brand geslaan het.
Jaco het die 2017 Ford Fusion op 8 Augustus by ‘n persoon gekoop wat dit in Julie by ‘n motorhandelaar gekoop het. “Die persoon kon weens omstandighede nie langer die kar bekostig nie en ek het ‘n deposito betaal en die paaiemente by hom oorgeneem. “Sowat twee weke gelede was ek met die motor Vrystaat toe en die kar het begin rook. Ek het die handelaar gebel en hulle het ‘n trok gestuur om die kar te kom haal. Ek het die Ford eers verlede Woensdag, 18 Augustus, weer teruggekry. Vrydagaand toe ek brandstof by ‘n vulstasie ingooi, het die petroljoggie opgemerk dat water onder die motor uitspuit. Ek het weer die handelaar gebel en die motor daarheen geneem. Na ‘n motorwerktuigkundige gekyk het, het hy gesê dit is niks ernstig nie, net ‘n ‘airlock’. ‘n Paar uur later het die motor aan die brand geslaan.”
Jaco is nou in onderhandelings met die handelaar betrokke. Hy kan op die oomblik ook nie werk nie aangesien sy hande brandwonde opgedoen het.
“Ek wil net baie dankie sê vir die mense wat ons lewens gered het. As dit nie vir julle was nie, was ons dood.”