‘n 31-jarige vrou is Donderdagmiddag wreed met pangas en ‘n byl aangeval en kritiek beseer tydens ‘n plaasaanval by Brits.

Die vrou was tussen 14:00 en 15:00 op pad uit en besig om haar huis te sluit toe sy deur ‘n onbekende aantal aanvallers, gewapen met panga, byl en mes, oorval is. Volgens Johan de Klerk van Afriforum Buurtwag in Brits, het drie van die aanvallers haar die huis in gedwing en haar wreed met die wapens aangeval.
Die vermoede bestaan dat daar altesaam vyf aanvallers was. Hulle het haar vasgebind en die huis geplunder. Hulle was ook op soek na vuurwapens maar kon geen vuurwapens in die huis kry nie. Die aanvallers het vermoedelik in ‘n voertuig gevlug.
“Ten spyte van haar beserings en dat sy vasgebind was, kon sy daarin slaag om die Afriforum-noodradio te bereik en het ‘n hulproep uitgestuur. ‘n Buurman was binne vyf minute op die toneel en kon noodbehandeling toepas totdat die Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) op die toneel opgedaag het. Sy was in ‘n baie ernstige toestand,” het hy gesê.
Die vrou het onder meer ernstige kopwonde en ‘n gebreekte been in die wrede aanval opgedoen. “Sy het teen Dinsdag al drie operasies ondergaan,” het De Klerk gesê. ‘n Huishulp is ook gedurende die roof aangerand, maar is nie ernstig beseer nie. De Klerk sê dit is die derde aanval helder oordag in die Brits-gebied die afgelope weke.
“Mense verwag hierdie tipe aanvalle in die aand. Mense sal hul modus operandi moet verander en bedags net so paraat wees as snags. En ek kan nie die belangrikheid van ‘n noodradio genoeg beklemtoon nie. Rowers vlug met selfone en dan kan die slagoffer nie hulp ontbied nie. Sluit by jou plaaslike veiligheidstrukture en radionetwerk aan. Dit kan jou lewe red.”
Die polisie ondersoek die saak.