
Carmi Landsberg (15)
Vir die 15-jarige Carmi Landsberg van Hartbeespoort, het ‘n lewenslange droom nou onverwags waar geword. Dié ballerina het pas ‘n studiebeurs ontvang om by een van die wêreld se beste balletskole in Duitsland te dans!
Carmi het in Julie aan die SA Internasionale Balletkampioenskappe deelgeneem en was een van net vier dansers wat ‘n beurs by die gesogte State Ballet School Berlin ontvang het. Sy het teen 60 dansers meegeding.
“Ek kan dit nou nog amper nie glo nie. Dit is regtig ‘n droom wat waar geword het,” sê die tiener wat ‘n leerling by The Mountain Cambridge School is. “Al wat ek nog altyd wou doen was dans en my plan was om na skool by ‘n internasionale balletgeselskap aan te sluit. Ek is so dankbaar vir hierdie geleentheid.”
Carmi vertrek later die maand na Berlin in Duitsland vir ‘n twee-weke oriëntasieprogram by die balletskool. Die dansers sal onder meer aan mediese en psigiatriese evaluering onderwerp word. “Hulle wil bepaal of ek fisies en psigies gereed is om drie jaar by die balletskool te dans,” sê Carmi. Aangesien dansers eers op die ouderdom van 16 by die skool aanvaar word, sal Carmi tot Maart volgende jaar moet wag om by die skool aan te sluit.
“Ek kan nie wag nie. Nee, ek is nie bang om alleen so ver weg te gaan nie. Dit is my droom. Ek is só opgewonde,” lag sy.
Dié talentvolle danser dans al van sy nog in doeke was! “My sussie het gedans en my ma het my saamgevat as sy oefen. “En toe op ‘n dag, waggel sy met haar doek op die verhoog en begin saam dans,” vertel haar ma, Talita. Dit was die begin van ‘n passie wat met die jare net meer intens geword het.
Omdat ballet soveel van haar tyd verg, en sy dikwels nie klasse by die skool kan bywoon nie, moes sy ‘n streng ooreenkoms met haar pa en die skool aangaan. “Die hoof het gesê ek kan die tyd afkry wanneer ek dans solank ek een van die top 5 presteerders in my klas is. My pa het gesê ek moet in die top 10 wees. Ek werk hard akademies om dit reg te kry. Ek moet dit doen om my droom en passie te volg.”
Carmi oefen meer as 20 ure per week en tree op in die Mzanzi-dansgeselskap se vertonings. Sy is tans te sien in Swan Lake wat by Montecasino opgevoer word.
“Ek is so bevoorreg om my droom te kan uitleef en dit is alles aan my ouers en die skool, wat my ondersteun, te danke. Ek is so gelukkig!”