
Faan Naudé en die Martoetsie Teater
Die Martoetsie Teater en Kunsgalery het Sondag sy deure teen die voet van die Magaliesberg op Silkaatsnek geopen.
Dié unieke “teater op die plaas” word deur die bekende raammaker van Hartbeespoort, Faan Naudé, aan sy dogter, Marté van Heerden, opgedra wat in 2022 weens kanker oorlede is.
Die teater het Sondag met die klavierklanke van die befaamde pianis, Wessel van Wyk, tjellomusiek van Bertine van Schoor en vioolspel van Hanli Dames, om maar net ‘n paar te noem, geopen. Die byna 200 gaste het binne en buite onder die bome geluister na die musiek.
“Marté sou mal gewees het hieroor. Haar bynaam was Martoetsie, nou die teater se naam,” sê Faan. Marté was ‘n bekende musikant in Hartbeespoort.
Die idee vir ‘n teater het sowat drie maande gelede ontstaan toe hy kunswerke van sy kleindogter moes raam. “Ek het my raamwerk na die plaas verskuif ‘n tyd gelede en toe wonder ek of ek nie ‘n kunsgalery op die plaas moet open nie. En toe brei dit uit na ‘n teater,” lag hy. “En daar rol die wiel toe!”
Hy het sy groot stoor begin ontruim en opruim, ‘n ou hoenderhok het in ‘n verhoog ontaard en voor hy hom kon kry, was die Martoetsie Teater in wording. Die ou plaasstoor is in ’n unieke teater verander.
Teater is niks nuuts vir Faan nie. Hy het sowat 20 jaar gelede die Koffiehuis Teater in Brits bedryf en meer as 60 vertonings aangebied. “Ek het by die Pierneef Teater aangeklop vir voorstelle vir kunstenaars en Wessel van Wyk was Marté se proffie. Alles het mooi bymekaargekom.”
En hy belowe dit is maar die begin. “Die droom is om ‘n kultuursentrum te vestig met uitstallings van kunswerke, uitvoerende en visuele kunste en ‘n volwaardige restaurant. ‘n Plek in die natuur waar besoekers ook hul verversings kan bring en piekniek hou.”
Die volgende aanbieding by Martoetsie is Jannie du Toit wat net met sy kitaar sy gunstelinge van die afgelope 50 jaar sal sing. Dit vind Sondag, 1 Oktober, om 15:00 plaas. Vir meer inligting, kontak Faan by 072 538 5678.