Nico (72) ry tweede plek in SA’s los

“Ek mag oud wees, maar ek is nog lank nie koud nie. Ek ry myself gesond,” sê die 72-jarige Nico van Eck van Hartbeespoort wat verlede week tweede plek in die Suid-Afrikaanse fietsrykampioenskappe in die 70+ afdeling behaal het.

Nico van Eck (72)

“Ek is sommer vies vir myself, ek kon gewen het, maar toe help ek van die vroue in die wedren,” lag hy.

Nico het verlede week die 67 km padresies in twee ure en 22 minute voltooi en het tydens die wedren 1 200 m geklim. “Ons is drie keer teen God’s Window uit. Dit was ‘n tawwe resies, maar dit was lekker,” sê hy.

Nico het eers in sy dertigerjare begin fietsry en moes vir 18 jaar ophou na ‘n ernstige fietsryongeluk in 1994. “My bobeen het lelik gebreek en na ‘n groot operasie en penne, het ek nie gedink ek sou ooit weer kon ry nie. Na my aftrede, het ek op 66 weer so liggies saam met die fietsryers van Harties Fietsryklub begin ry. Tot my verbasing het my been al sterker geword en voor ek my kon kry, het ek wedrenne begin ry. Ek het myself gesond gery. Ek kan nie hardloop nie, maar ek kan fietsry,” lag hy.

Hy oefen drie keer per week en ry tussen 30 tot 200 km op ‘n slag. “Ek verdwyn net uit die huis uit en kom ses ure later terug. My familie is al keelvol vir my. Sedert ek ses jaar gelede weer begin ry het, het ek al 72 000 km afgelê.”

Hy is deurentyd op soek na uitdagings. Nico het verlede jaar ‘n 800 km rit na Queenstown aangepak as deel van ‘n fondinsamelingprojek vir behoeftige kinders. Hy is per fiets na Durban om aan die Omashova-wedren deel te neem. Hy het verlede jaar die Tshwane Classic-wedren in sy ouderdomsgroep gewen en het die eerste plek tydens die 94.7-resies gedeel.

“Fietsry hou my aan die lewe. Mens ontmoet soveel interessante mense en sien ongelooflike plekke. Ek sal siek word as ek ophou!”