Noordwes se slimste gaan dokter word

Die 18-jarige Lukas Schoeman van Hartbeespoort is verlede week as top matriekpresteerder in Noordwes aangewys en dié onverwagte prestasie het hom nou, uit die bloute ‘n beurs, om medies te studeer, besorg.

Lukas, ‘n leerder van Hoërskool Hartbeespoort, se gemiddelde punt in die matriekeksamen was 95% en hy het tussen 92% en 98% vir al sewe sy vakke behaal.

“Ja, ek het onderskeidings verwag, maar daar was twee of drie vakke waaroor ek nie so seker was nie. Dit was wonderlik om te sien ek het so goed in al die vakke gedoen,” sê dié slimkop beskeie. “Ek het hard geleer want ek het geweet ek moes presteer as ek keuring vir medies wou kry.” En nou begin hy eersdaags met sy mediese studies by die Universiteit van Witwatersrand.

Lukas het by ses universiteite in Suid-Afrika aansoek gedoen om medies te studeer, en is by almal aanvaar! Hy het besluit op die Universiteit van Pretoria en het reeds verlede week geregistreer toe ‘n onverwagte oproep sy planne drasties verander het.

“Wits het my ‘n volle beurs vir ses jaar aangebied. Ek het nie eers geweet so iets bestaan nie. Ek was sprakeloos en my ouers ekstaties,” lag hy. “Ons planne het nou drasties verander en nou soek ek dringend blyplek naby die universiteit.

Lukas sê hy was nie altyd so ‘n ywerige leerder nie. “Dit was eers toe ek in Graad 8 besluit het om dokter te word dat ek ernstig begin leer het.” En hy leer maklik. “Ek lees ‘n hoofstuk een keer en dan herhaal ek dit vir myself. En dan sal ek dit die volgende dag weer vir myself herhaal, net om seker te maak ek onthou dit.” Het hy ‘n fotografiese geheue? Hy lag. “Seker so iets. Ek onthou net wat ek gelees het.”

Hy beplan om uiteindelik as ‘n neurochirurg te kwalifiseer. “Ek sien geweldig uit na die studies, veral na die vakke soos anatomie.”

Lukas is egter nie net ‘n boekwurm nie, hy is ook ‘n bedrewe langafstandatleet en bergfietsryer wat gedurende sy skoolloopbaan vir die skoolspanne meegeding het. “Ek skets en skilder ook graag en ek sing. As die studies dit toelaat sou ek graag by Wits se koor wou aansluit. Ek sal maar moet sien wat ek saam met die studies kan inpas. Ek sien uit na my nuwe lewe wat nou begin.”