‘n Sewentienjarige seun van Skeerpoort, wat sy been in ‘n fratsongeluk verloor het, het verlede week twee splinternuwe prostetiese bene ontvang danksy ‘n geldinsamelingsveltog van mede-leerders by Hoërskool Bekker.

Wian Hoffmann met sy nuwe prostetiese bene

Wian Hoffmann se prostetiese bene, waaronder ‘n “sportbeen”, is aan hom deur Operation Healing Hands oorhandig wat van die inisiatief bewus geword het en bygedra het om die bene te laat maak.

Wian, ‘n Graad 9-leerder, het 10 jaar gelede op sewejarige ouderdom, sy linkerbeen in ‘n fratsongeluk op ‘n plaas in Hekpoort verloor toe hy van ‘n perdesleepwa afgeval het. Die sleepwa se deur het bo-op sy been geval.

Sy gebrek het hom egter nie ondergekry nie. Selfs met ‘n prostetiese been wat nie geskik was vir sport nie, het hy ‘n kranige rugby-, hokkie- en krieketspeler, sowel as swemmer geword. Wian het selfs in 2019 die skool se kriekettoekenning ontvang vir beste kolwer van die jaar – ‘n bewys van ware vasberadenheid en deursettingsvermoë. “Ek het nie toegelaat dat my gebrek my keer nie. Ek is mal oor sport en het net besluit ek gaan dit doen, al het ek nie die regte prostese nie. En ek het goed gedoen,” sê Wian.

Die hoofseun van Hoërskool Bekker, Neil Buitendag, het verlede jaar opgemerk dat Wian begin sukkel met sy prostese wat hy besig was om te ontgroei. “Ek het aan maniere gedink om hom te help. Ek het met ‘n personeellid by die skool, juffrou Menique Kies, hieroor gesels en ons het op ‘n idée gekom om ‘n video van Wian te maak en geld in te samel vir ‘n nuwe been,” sê Neil.

Die video het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei en onder die aandag gekom van Operation Healing Hands en prostetikus, Gerhard Swart. Hulle het aangebied om te help en ook ‘n fondsinsameling begin om vir Wian, nie net een nie, maar twee, nuwe bene te maak. Een hiervan is ‘n prostetiese been spesiaal vir sport.

Die bene is verlede week aan hom oorhandig. ‘n Oorstelpte Wian het dié week aan Kormorant gesê dat hy nie woorde het om die gevoel te beskryf nie. “Dit is ‘frickin awesome’. Ek is so baie bly en opgewonde. Weens die pandemie is daar nie nou sport nie, maar ek hardloop elke dag met my sportbeen. Dis is soveel vinniger, dit is ‘amazing’. Ek kan nie wag om daarmee rugby, krieket en hokkie te speel nie. Ek is so dankbaar, ek kan nie almal wat betrokke was genoeg bedank nie. Dit het my lewe verander.”

Wian se groot droom is om aan die Paralimpiese Spele deel te neem. “Met my nuwe been het ek nou ‘n baie beter kans om die droom te verwerklik. Baie dankie!”

Wian is in 2019 as die beste krieketkolwer aangewys

Menique Kies, die skool se bemarker, sê Wian het reeds die skool se aandag getrek toe hy in Laerskool Hekpoort vir die onder 14-rugbyspan uitgedraf het. “Wian het destyds nie die regte prostese vir sport gehad nie, maar dit het hom nie gekeer om aan rugby, hokkie en krieket deel te neem nie. Ons is bevoorreg om Wian as deel van die Bekkerfamilie te hê en vir hom die nodige ondersteuning te kan bied tydens sy hoërskoolloopbaan. Ons is baie trots op wat hy alles bereik het en dat hy nooit toegelaat het dat enigiets in sy pad staan nie. Ons is so trots op ons personeel wat gehelp het met Wian se ontwikkeling en sy deelname en prestasies in sport.”

Die skool het Neil en Menique bedank vir die initiatief en bewusmakingsveldtog. “Hoërskool Bekker sê ook baie dankie aan Gerhard Swart en die Operation Healing Hands-span wat dit vir Wian moontlik gemaak het om onafhanklik te wees. Ons sien uit na wat Wian alles gaan bereik met sy nuwe prosteses en “sport blade”. Wian jy maak ons almal nederig en maak ons bewus van wat ‘n mens kan bereik as jou hart en saak reg is.”

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident