Pa (23) in hof vir mishandeling van baba

‘n Pa van Brits verskyn tans in die Noord-Gauteng hooggeregshof op aanklagte van kindermishandeling na hy na bewering sy ses-weke-oue baba in 2020 aangerand en in ‘n vrieskas gesit het as die baba huil.

Gerhard Viljoen tydens ‘n verskyning in die Brits-landdroshof in 2020.

Gerhard Viljoen (23) en die ma van die baba, wat ten tye van die voorval net 16 jaar oud was, is in 2020 aangekla na die beweerde mishandeling deur derde partye aangemeld is. Die baba het brandwonde in die vrieskas opgedoen en ‘n mediese verslag beskryf nog 12 beserings wat die baba weens beweerde mishandeling opgedoen het.

Die saak het sedert November 2020 in die Brits-landdroshof gesloer en is later sonder motivering deur die staatsaanklaer teruggetrek. Afriforum se privaatvervolgingseenheid het in Julie 2021 die Nasionale Vervolginsgesag (NVG) aangevat oor drie sake van erge kindermishandeling in Brits wat teruggetrek is. Die NVG het die saak teen Viljoen en die ma, nou 18, heropen, maar intussen weer besluit om die ma nie te vervolg nie hoewel die ma, volgens Afriforum, glo aan ‘n kleuterskoolonderwyseres erken het dat sy haar baba in ’n vrieskas gesit het as hy te veel gehuil het.

Die saak teen Viljoen sou vanaf 24 – 28 Januarie in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aangehoor word. Dit is egter die afgelope week telkens uitgestel na Viljoen aanvanklik aangevoer het dat hy siek is. “Hy is steeds in aanhouding. Die saak gaan more (Woensdag) voort, maar Viljoen het reeds aangedui dat hy sy Legal Aid-verteenwoordiger met iemand anders wil vervang,” het Natasha Venter, woordvoerder vir Afriforum se privaatvervolginseenheid Dinsdag gesê.

Teen druktyd was daar nog nie verdere inligting oor die hofsaak beskikbaar nie.