Toe paramedici Woensdagaand na ‘n ongelukstoneel by Brits gehaas het, was hulle voorbereid om beseerde mense te help, maar het nooit gedink dat hulle boonop twee babas sou moes vang nie.

Paramedici van die Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) is Woensdagaand na ‘n botsing tussen ‘n bakkie en ‘n trok naby Brits ontbied waar drie mense beseer is. Met hul aankoms op die toneel het die paramedici aan die werk gespring om die beseerdes, waarvan twee ernstig was, te stabiliseer, en toe gebeur die onverwagse. Een van die passasiers was die hoogswanger Miclane Hlongwane en moontlik weens skok, het sy op die ongelukstoneel in kraam gegaan. Paramedici moes bonstaan en tot hul verrassing, moes hulle nie net een nie, maar twee babas vang.
“Die mamma en twee babaseuntjies en die beseerdes is na ‘n hospital in Brits geneem. Albei die babas is gesond. Ons het die volgende oggend vir hulle in die hospital gaan kuier om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan en sommer ‘n paar geskenkies af te laai. Die een baba is in die pediatriese afdeling, maar albei is gesond en die mamma baie gelukkig,” het Leandrie Spies van HEMS gesê.