Goeie nuus vir Parkrun-entoesiaste. Die Parkrun is terug en skop Saterdag, 19 Februarie, op die Skemerberg-plaas in Rietfontein af.

Ds Anton van Zyl van die Kuierkerk en sy skrywervrou, René, het goedgunstelik hul pragtige plaas aangebied as die nuwe Parkrun-terrein.
Die Skemerberg Parkrun is ‘n gratis 5 km pretstap of – draf vir die hele gemeenskap, en hierdie splinternuwe roete word op 19 Februarie om 07.00 ingewy. Ds Van Zyl het die afgelope tyd hard gewerk om die nuwe roete, met sy pragtige uitsig, te ontwikkel.
Jy hoef nie superfiks te wees om saam te stap nie. Elkeen bepaal sy eie pas en stap of draf vir plesier. Trek gerus jou 4-by-4 tekkies aan en kom beproef die roete op ‘n baan van gras, permanente paadjies en grondroetes. Die baan, wat uit ‘n kombinasie van vier verskillende sirkelroetes bestaan, begin met ‘n lekker vinnige steilte teen die koppie uit wat jou met die mooiste uitsig oor die Hartbeespoortdam en omgewing gaan bederf. Kyk maar uit vir ‘n plassie water of bietjie modder na ‘n bui reën. Beamptes of padtekens sal in plek wees om deurgaans die rigting tussen die bome en grasland aan te dui.
Om te stap is gratis, maar registreer gerus en laai die Parkrun-toep af waarmee jy jou eie tye en stapgeskiedenis kan volg.
Bring ‘n afskrif van die strepieskode van jou registrasie saam sodat jou tyd aan jou gestuur kan word. Jy kan egter ook saamstap sonder om te registreer. Stappers is ook welkom om ‘n hond op ‘n kort leiband saam te bring. Honde moet onder beheer gehou kan word.
Stappers word versoek om bedagsaam teenoor ander stappers en die natuur te wees en respek te toon vir kleinwild op die roete. Kinders onder elf moet deur ‘n ouer, voog of toepaslike volwassene vergesel word.
Skemerberg is geleë op Plot 291 Rietfontein, op die R511, Hartbeespoort by die De Vette Mossel/Lulu’s Pub afdraai. Skemerberg is op Google maps beskikbaar. Kontak skemerberg@parkrun.com vir enige navrae.
Verversings en drinkgoed sal na afloop van die Parkrun beskikbaar wees.