Die bekende en geliefde kunstenaars-egpaar, Pierre en Paulie van Niekerk, sprei nou hul vlerke Kaap toe, maar hulle verseker die Hartbeespoort-gemeenskap dat dit beslis nie die laaste sien is nie.

“Ons verhuis einde Februarie na Vermont naby Hermanus en ons sien so baie uit daarna, maar daar is ook hartseer om die mooie Hartbeespoort te verlaat. Paulie is hier gebore en getoë en ek woon al dertig jaar hier! Dit is ‘n groot stap met baie gemengde gevoelens, maar ons weet ons doen die regte ding. Alles het net so in plek geval,” sê Pierre.
Dié twee kunstenaars het diep spore in Hartbeespoort getrap. Buiten die feit dat hulle ‘n bekende sangpaar in Suid-Afrika is, was hulle grootliks verantwoordelik vir die sukses van Laerskool Generaal Hendrik Schoeman se koor en die musiekakademie, en was betrokke by meeste skole in Hartbeespoort en Brits se kultuuraktiwiteite. Paulie se Gladdebekke-debatskool is nou landswyd bekend en haar studente maak skoonskip in debatkompetisies.
Wat het hulle laat besluit om na die mooie Kaap te verhuis? “Dit was die einde van ‘n era. Ons jongste is klaar met skool. Ek en Pierre het al ‘n geruime tyd gepraat oor waar ons graag sal wil bly, en as ons in die Kaap was, het die gesprek altyd in daardie rigting geneig. Toe my suster ons onlangs vertel van ‘n huis wat naby haar te koop is, was dit asof die besluit vir ons geneem is. Binne drie dae het ons huis gekoop! lag Paulie. Hul kleinhoewe is net so vinnig verkoop. “Alles het net in plek geval, so asof dit so moes wees. Dit is nie maklik nie, ek het nog nooit elders as Hartbeespoort gebly nie!”
Die Kaap wink ook vir ‘n ander rede… “Die kinders is nou uit die huis. Ons het so half en half ons eie loopbane as kunstenaars opgegee want ons het gevoel dit is nie reg om die kinders so langs die verhoog groot te maak nie. Ons het onlangs weer ‘n show gedoen en dit was so groot sukses, dit het opnuut die honger wakker gemaak. Ons wil weer sing,” sê Paulie.
Hulle gaan Hartbeespoort en sy gemeenskap baie mis. Hier is n leeftyd se herinneringe en vriende en die Hartbeespoort-gemeenskap was baie goed vir ons. Dankie aan die Harties-gemeenskap vir wonderlike jare se saam bou aan die dorp se kultuur en uitvoerende kunstewêreld. Ons gaan julle egter gereeld sien. Ons gaan nog gereeld hier werk en kuier. Totsiens tot weersiens!”