
Drie vroue is verlede Donderdagaand op ‘n plaas in die Kleinfontein-gebied by Brits deur drie gewapende rowers oorval, maar hulle kon daarin slaag om hulself in ‘n slaapkamer te beveilig.
Anne Oberholzer (68) was ongeveer 18:40 saam met ‘n kollega en haar dogter buite die huis op haar plaas, toe die rowers skielik te voorskyn gekom het.
“Ons was net van die stoep af op pad na hul motor toe my worshondjie histeries begin blaf. Toe ek omdraai om te kyk waarvoor die hondjie so blaf, kom ‘n man met ‘n pistool om die hoek,” het sy aan Kormorant vertel. “Hy het die pistool op my gerig en die sneller getrek en toe klik dit net… Ons het kans gehad om by die voordeur uit te kom en hy het ons gevolg. Ek het geweet ons moet by my kamer kom waar daar ‘n veiligheidshek en pepersproei is.”
Op pad na die kamer, het die rower die kollega in die hande gekry en haar geslaan. Toe die dogter wou keer, is sy geskop. Al drie kon egter daarin slaag om by die kamer in te kom en Oberholzer het die veiligheidshek toegeslaan. “Ek het die binnedeur toegemaak en die rower is na die agterdeur waar hy nog twee mans ingelaat het.”
Oberholzer het haar selfoon by haar gehad en onmiddellik die Krokodil Gemeenskapsbeskermingsgroep gekontak.
“Ek het in ‘n stadium die kamerdeur oopgemaak en toe staan die rower weer daar en trek weer die sneller. Weer het die skoot nie afgegaan nie. Ek glo die Here se hand het my beskerm,” het sy gesê.
Lede van die gemeenskapsbeskerminggroep was binne minute op die toneel en die rowers het gevlug met Oberholzer se handsak en twee selfone. Die rowers se spore is tot by ‘n dam gevolg waar dit doodgeloop het.
Daar word vermoed dat dit dieselfde groep rowers is wat die afgelope week drie plase in die Mamogalieskraal en Kleinfontein-gebiede by Brits aangeval het.