Plaasaanvallers slaan haelgeweer stukkend op bejaarde

08/07/2024News

Die bejaarde egpaar is wreed aangerand.

Tydens ‘n wrede plaasaanval Saterdag naby Brits het die aanvallers ‘n 73-jarige man so hard oor die kop geslaan dat ‘n haelgeweer gebreek het.
Die bejaarde egpaar in hul 70’s is omstreeks 19:00 deur drie gewapende mans in hul huis op ‘n wild- en beesplaas by Beestekraal oorval na die rowers die veiligheidsdeur oopgebreek het.
Die egpaar, wat nie geïdentifiseer wil word nie, werk as bestuurders op die plaas. “Die oom en tannie is erg verniel en rondgegooi en hulle het die oom so hard oor die kop geslaan dat ‘n haelgeweer se kolf gebreek het,” het die plaaseienaar, Martin Barnard, aan Kormorant gesê.
Volgens Barnard het die egpaar ongeveer 17:00 van ‘n patrollie op die plaas na hul huis teruggekeer. “Hulle het my nog gebel en gesê hulle het die koedoes gesien. Toe hulle tuis kom, het die oom met die oopsluit van die veiligheidshek gesien die boonste skarnier is stukkend, maar het gedink dit is moontlik slytasie. Hulle was besig om rugby te kyk toe die aaanvallers die veiligheidshek oopbreek. Twee het die oom en tannie gegryp terwyl een buite wag gehou het.”
Die aanvallers het die egpaar wreed aangerand en deurgaans vir geld en wapens gevra. “Hulle het die tannie oor die kop geslaan, die oom met die haelgeweer, vuiste en gordel aangerand en hom herhaaldelik geskop terwyl hy lê. Albei is vasgebind,” het Barnard gesê.
Die huis is geplunder. “Die aanvallers het selfs whisky gedrink terwyl hulle die twee bejaardes treiter.” Die egpaar is gedwing om hul selfone, bankkaarte en pinkodes vir die aanvallers te gee en ‘n kluis oop te sluit. Die rowers het probeer om die egpaar se bakkie te steel, maar kon nie daarin slaag om dit aan die gang te kry nie. Hulle het met ‘n televisiestel, twee handwapens en ander waardevolle besittings gevlug.
“Die tannie kon haarself loswikkel en het die oom bevry. Die bakkie se sleutels was egter weg. Die oom het daaarin geslaag om skote met die beskadigde haelgeweer af te vuur met die hoop dat iemand sou hoor.” Toe daar geen reaksie was nie, het die twee beseerde ou mense sowat 2.5km na Barnard se huis op die plaas gestap om hulp te soek. ‘n Plaaswerker het Barnard, wat nie voltyds op die plaas woon nie, gekontak.
Die Krokodil Gemeenskapsbeskermingsgroep (KGBG) en omliggende boere is in kennis gestel en het onmiddellik gereageer.
“Ons het met spoorsnyhonde en hommeltuie die verdagtes se spore gevolg en paaie in die omgewing is gesluit. Lede by een van die padblokkades het ‘n verdagte voertuig opgemerk en dit agterna gesit,” het Janus Fourie van die KGBG gesê. In die jaagtog, het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en is in die veld in. Drie verdagtes, wat waarskynlik die aanvallers was, het die bosse in gevlug. Van die items wat tydens die plaasaanval gesteel is, is in die voertuig gevind.
“Na ‘n soektog van twee ure met hommeltuie en nagsigtoerusting, kon ons egter nie die verdagtes vind nie. Hul identiteitsdokumente is wel op die toneel gevind,” het Fourie gesê.
Polisie was op die toneel en het nog nie op Kormorant se navraag reageer nie.