
‘n Plaaswerker by Klipkop naby Brits het Saterdag in die vroeë oggendure vir sy lewe baklei deur gewapende plaasaanvallers met blikkies energiedrankies te bestook terwyl hulle op hom skiet.
“Die plaaswerker, wat ‘n klein winkel uit sy kamer bestuur, het geslaap toe die groep aanvallers ongeveer 01:00 by sy kamer probeer inkom het. Hulle het die deur probeer afbreek. Die werker het egter terugbaklei vanuit sy kamer en telkens as die bende daarin geslaag het om die deur effens oop te kry, het hy die gewapende mans met blikkies Dragon-energiedrankies bestook,” het Chris Degenaar, van Tactical K9 sekuriteitsdiente, gesê.
Die aanvallers het vyf skote met ‘n 9 mm-pistool deur die deur, waaragter die werker gestaan het, afgevuur. “Dit is ‘n wonderwerk dat die werker nie getref is nie. Die aanvallers het hierna gevlug sonder om iets te kon steel.”
Ander werkers op die perseel het gelukkig nie hul kamers verlaat nie en het die plaaseienaar gebel om hulp te ontbied. Tactical K9 en die polisie was kort daarna op die toneel. Die aanvallers is steeds op vrye voet.