Twee honde is dié week van ‘n wrede dood naby Brits gered danksy die polisie en gemeenskapslede.

Die twee honde, Olga, ‘n Labrador-kruising, en Amstel, ‘n boerboel-kruising, het in die hande van mense beland wat vermoedelik by hondegevegte betrokke is.
Dié twee weggooihonde het ‘n tyd gelede by die Hearts of Compassion (HOC) dierewelsynorganisasie beland en is later deur ‘n weldoener aangeneem. “Ons doen deurlopend opvolgbesoeke om te verseker ons aanneemhonde word goed versorg, en met ons laaste besoek, was die honde weg. Ons is vertel hulle is aan ‘n voetganger gegee. Met ‘n ondersoek het ons uitgevind die honde is in die Sonop-omgewing, vermoedelik in die hande van mense wat by hondegevegte betrokke is.,” sê Daphne van der Walt van HOC.
‘n Desperate soektog vir die honde is van stapel gestuur. Vir agt dae het vrywilligers van die dierewelsynorganisasie alle moontlik leidrade opgevolg en plaaslike gemeenskappe besoek en vir hulp gevra. Woensdagoggend het ‘n jong man uit die gemeenskap vir Olga in ‘n kanaal gevind waar sy vasgebind in die water gegooi is om te verdrink. “Sy is vermoedelik al Maandag in die kanaal gegooi en moes twee dae van hel gehad het. Ons het intussen uitgevind waar die persoon bly wat die honde gehad het en is na die huis. Ons is vertel Amstel is dood. Ek het gevra ek wil dan sy liggaam sien, al moet ek dit self opgrawe. Die persoon het aggressief geraak en toe besluit ek om die polisie se hulp te vra.”
Adjudant-offisier Karel Kemp en sersant Seuntjie Monyai van die Brits polisie het die perseel besoek en Amstel in ‘n hok sonder enige skuiling in die bloedige son gevind. “Hy was in ‘n hok langs ‘n aggressiewe Pitbull wat vermoedelik in hondegevegte gebruik word. Ons vemoed Amstel was vir ‘n wrede lot bestem,” sê Daphne.

Amstel is veilig huis toe gebring en met Olga herenig. “Ek sal hulle nou self aanneem. Hierdie diere is al deur genoeg hel in hul lewens as gevolg van mense. Ons bedank die polisie uit ons harte vir hul omgee vir diere en dat hulle uit hul pad gegaan het om ons te help. Ons waardeer julle. Ons het mekaar nodig in die geveg teen dieremishandeling.”
Kontak Hearts of Compassion by 072 926 2805 of 082 350 8741.