Polisie-kolonel klim die berg om ‘n hond te red

Hartbeespoort polisie se stasiebevelvoerder, kol Eric Brand  het Vrydagmiddag self teen die Magaliesberg uitgeklim om ‘n hond, wat vermoedelik al twee dae in ‘n strik vasgesit het, te red.

Die polisie is Vrydag deur die Hoërskool Hartbeespoort bewus gemaak van ‘n hond wat reeds ‘n geruime tyd teen die berg, agter die skool blaf.

“Net na 16:00 het ek besluit om self te gaan kyk. Ek het ‘n hond hoor blaf-tjank en is met die wandelpaadjie naby die skool teen die berg op. Ek het die geluide gevolg en het die Weimeraner-teef seker so kilometer teen die berg op in ‘n klofie gevind. ‘n Draadstrik was baie styf om haar nek gespan. Sy was vreesbevange en ek het ‘n taamlike tydjie gesukkel om haar uit die strik te bevry,” het kol Brand, ‘n groot diereliefhebber, gesê.

Hy het probeer om die draad te gebruik om haar af te lei, maar sy het geweier om te loop en al oplossing was om haar af te dra. “Sy was was erg-getraumatiseer. Gelukkig het ek water by my gehad en sy het ‘n hele bottel opgedrink. ‘n Gemeenskapslid, Lennox Williams, het my op die roete af ontmoet en gehelp dra.”

Kol Brand het van die polisiepersoneel gevra om te kyk of hulle moontlik die eienaar kan opspoor en deur middel van WhatsApp-groepe, is die hond kort daarna met sy eienaar herenig. “Volgens die eienaar was die hond reeds twee dae weg. Ek is net bly ons kon haar betyds kry.”