Polisie, premier getakel oor taxi-ontwrigting in Brits

Lede van die Brits-gemeenskap en politieke partye het nou die polisie en premier in Noordwes aangevat omdat die herhaaldelik taxi-ontwrigting in Brits nie deur die owerhede aangespreek word nie.

Taxis het verlede week weer alle paaie in en om Brits geblokkeer en mense verhoed om die dorp binne te gaan of te verlaat. Dit spruit uit onenigheid tussen taxi-verenigings.

Gemeenskapslede het hul misnoëe met die situasie op ‘n openbare vergadering uitgespreek en gedreig om wet in eie hande te neem indien die polisie nie teen die onwettige aksies van die taxis optree nie.

“Hoe kan die polisie toelaat dat taxis Brits gyselaar hou? Dit is absurd,” het ‘n inwoner gesê.

Die VF+ het Donderdag ‘n amptlike versoek aan die Noordwes se premier, Job Mokgoro, gerig om sonder verwyl in te gryp om die situasie stop te sit. “Brits word reeds ‘n geruime tyd deur die ontwrigtende optrede van plaaslike taxi-verenigings geteister. Dit word gekenmerk deur geweld en intimidasie asook aanvalle op plaaslike inwoners,” het Jan Brits, ‘n VF+ raadslid gesê.

‘n Vrou is gedurende die laaste taxi-oproer deur taxi-bestuurders aangerand.
“Inwoners dreig om wet in eie hande te neem indien die owerhede nie optree nie. Ons vra egter dat die gemeenskap kalm bly en die situasie deur die regte kanale oplos. Ons is bewus van groot frustrasie onder inwoners wat weens die owerheid se gebrek aan optrede moet toekyk hoe hul eens trotse dorp vernietig word. Daar moet nou dringend ingegryp word om plaaslike inwoners en hul eiendom teen hierdie misdadigheid te beskerm.”

Die DA het in ‘n brief aan die Brits polisiebevelvoerder hul kommer oor die situasie uitgepreek en het Maandag met polisielede vergader om die taxi-geweld te bespreek. “Hierdie taxi-blokkasies is onwettig and gaan hand-aan-hand met geweld en intimidasie. Die gemeenskap vrees vir hul veiligheid,” lees die skrywe.

“Die DA is bekommerd oor die feit dat die polisie nie optree ten opsigte van hierdie voortdurende probleem nie. Die polisie het ‘n plig om inwoners en publiek, wat die paaie gebruik, te beskerm,” het DA-raadslid, Jan van Rhyn, gesê.

“Die insidente het ook ‘n negatiewe effek op die plaaslike ekonomie. Die Madibeng-gemeenskap het die reg op vryheid van beweging en om beskerm te word teen misdaadelemente wat die hele gemeenskap gyselaar hou vir eie gewin.”